Maatskaplike geregtigheid teenoor die tradisie van geregtigheid

Geregtigheid as ’n onderwerp van diepgaande filosofiese beredenering is so oud soos die mensdom self. Die goue draad wat dwarsdeur die geskiedenis van die Westerse filosofie van geregtigheid loop, is die wesenlik uiteenlopende aard van die mensdom en die gepaste wyse waarop geregtigheid op ’n individuele en samelewingsvlak kan geskied met hierdie werklikheid in gedagte. In die Weste het die begrip geregtigheid ontplooi terwyl die mensdom met die tradisie en histories-strukturele ontwikkelings geworstel het. In die moderne tyd word die klassieke Westerse idee van geregtigheid egter gekonfronteer met die voortdurende aandrang op maatskaplike geregtigheid. Om die waarde van die betreklik moderne verskynsel van maatskaplike geregtigheid te bepaal, is dit gepas om na die Westerse idee van geregtigheid deur die eeue heen te kyk ten einde ’n antwoord te kry op wat ware geregtigheid behels.

Geregtigheid deur die eeue

Van die invloedrykste vroeë Westerse teorieë van geregtigheid is vervat in die werke van die Antieke Griekse filosowe Plato en Aristoteles. In Die Republiek het Plato geworstel met die probleem van die verkryging van geregtigheid in ’n samelewing waar mense wesenlik ongelyk is as gevolg van hul uiteenlopende talente, deugde en vermoëns. Plato se oplossing was om ’n harmonieuse balans en orde tussen alle dele van die samelewing te bewerkstellig. Dit word verkry deurdat mense hul unieke deugde van uitnemendheid (aretḗ) uitleef om hul potensiaal te verwesenlik en eudaimonia of die hoogste staat van menslike goedheid in die samelewing te bereik.[1]

Plato se student Aristoteles het na vore getree as die volgende belangrike figuur in die Griekse filosofie. Soos Plato het Aristoteles ook geredeneer dat geregtigheid op deug (sowel moreel as intellektueel) berus, maar hy het maatskaplike eweredigheid beklemtoon, wat aan almal gee wat hulle toekom op grond van verdienste. Met ander woorde, Aristoteles het geredeneer dat geregtigheid behels dat mense hul billike deel ontvang, nie meer nie en ook nie minder nie. Dit is belangrik om daarop te let dat Aristoteles se siening van geregtigheid van dié van Plato verskil, deurdat Aristoteles aangevoer het dat geregtigheid interpersoonlike deelname en verhoudings in aksie vereis, terwyl Plato geregtigheid as ’n intrapersoonlike begrip beklemtoon het.[2] Dit is duidelik dat die Antieke Grieke die wesenlike verskille tussen mense as ’n onlosmaaklike deel van die mensdom beskou het. As ’n oplossing vir hierdie probleem was ’n deuggebaseerde teorie van geregtigheid volgens die Antieke Grieke die beste manier om uiteenlopende dele van die samelewing byeen te bring ten einde ’n samewerkende en geordende geheel te vorm.

Hierdie Antieke Griekse begrippe van geregtigheid het in die Westerse kanon invloedryk gebly en die grondslag van geregtigheid in die Vroeë en Middeleeuse Christendom gelê. So is die Vroeë Christelike denker Augustinus sterk deur Plato beïnvloed in sy begrip van geregtigheid. Augustinus het geregtigheid basies beskou as die deug waardeur alle mense ontvang wat hulle toekom, volgens hul unieke deugde. Hy verhef goddelike wette egter bo burgerlike wette. Sodoende het Augustinus die algehele gesag van die staat oor kwessies rakende geregtigheid ontkoppel. Dit volg dus dat Augustinus kon verklaar dat ’n onregverdige wet ’n ongeldige wet is.[3]

In sy verhandeling oor die reg (in Engels bekend as Treatise on law) het die Middeleeuse Christelike filosoof Thomas van Aquino sy teorie van geregtigheid uiteengesit. Aquinas het ’n duidelike Aristoteliaanse invloed getoon deur geregtigheid voor te hou as ’n ewewig in die behandeling van mense volgens wat hulle verdien. Aquinas het dan ook verklaar dat geregtigheid ’n deugdelike gewoonte is om aan elkeen te gee wat hom toekom met ’n blywende en konstante wil.[4] ’n Belangrike verskynsel in die ontwikkeling van Christelike denkers soos Augustinus en Aquinas is dat geregtigheid begin wegbeweeg het van die absolute mag van die staat en sig in die goddelike mag van God as ’n hoër bron van gesag gemanifesteer het.

Dit is egter die Protestantse Hervorming wat die grootste verskuiwing in die persepsie van geregtigheid teweeg gebring het deur die Rooms-Katolieke Kerk se gesentraliseerde kerklike hegemonie oor Europa te verwerp en sodoende bewussynsbevryding in Europa meegebring het. Dit het daartoe aanleiding gegee dat idees soos demokrasie, die skeiding van magte, godsdiensvryheid en die skeiding tussen kerk en staat in die Weste na vore gekom het. Op hul beurt het hierdie idees die omgewing geskep waarin die Era van Verligting kon plaasvind. Verligte beskouings van geregtigheid sien mense as morele en rasionele agente met inherente eiewaarde, wat hul individuele vryheid in ooreenstemming kan bring met die vryheid van andere deur die gebruik van die rede.

Die Duitse filosoof Immanuel Kant het as een van die toonaangewende Verligting-denkers na vore getree. Kant het ’n rasionaliteitgebaseerde deontologiese teorie van geregtigheid gebring wat op die rede (Vernunft) en vryheid berus. Kant het geredeneer dat geregtigheid verkry word deur die vryheid van die individu te harmonieer met die vryheid van ander individue. Dit plaas die onus op die morele en rasionele individu om só te handel dat die handeling deur die wil gedwing kan word om ’n algemeengeldige wet te word wat op almal van toepassing is. Hierdie teorie beklemtoon dus die onvermydelike verantwoordelikheid teenoor andere wat uit die uitoefening van jou vrye wil voortspruit.[5]

Die Verligting-idees van Kant en ander denkers soos John Mills bly tot vandag nog ter sake. In dalk die bekendste werk oor geregtigheid in die 20ste eeu, A theory of justice, het die politieke filosoof John Rawls ’n rasionaliteitgebaseerde teorie van geregtigheid ontwikkel wat sterk deur Kantianisme beïnvloed is. Rawls het die kwessie van geregtigheid in die sogenaamde “oorspronklike posisie” beperk tot die beskikbaarheid van primêre sosiale goedere wat alle mense nodig het. In die oorspronklike posisie sal mense ’n samelewing verkies waarin elke persoon individuele regte van vryheid het wat met die vryheidsregte van andere ooreenstem. Tweedens het Rawls gelykheid van geleentheid beklemtoon, want hy is bewus van die feit dat mense in wese verskil, ook wat hul vermoëns betref. Dus, ofskoon Rawls gelykheid wel as ’n gunstige uitkoms in die samelewing beskou het, het hy hom uitgespreek teen die uitkalwing van individuele regte ten einde die kollektiewe uitkoms van gelykheid in die samelewing te verwesenlik.[6]

Die oorsprong van maatskaplike geregtigheid

In die 20ste eeu het die begrip maatskaplike geregtigheid van toenemende belang geword in akademiese diskoers en vandag lei dit steeds tot vurige woordewisseling. Hierdie begrip maatskaplike geregtigheid word sterk beïnvloed deur kritiese teorie asook postmoderne en poststrukturalistiese filosofie. Kritiese teorie het in die eerste helfte van die 20ste eeu by die Frankfurtse Skool ontstaan. Dit is daarop gemik om ’n ontleding van die bourgeois-kapitalistiese samelewing te bied ten einde oorheersing en magsmeganismes bloot stel wat in die ideologie daarvan vervat is, om sodoende ’n samelewing te skep wat vry is van hierdie vorme van onderdrukking. Met ander woorde, kritiese teorie poog om die totaliteit van maatskaplike verhoudings te bestudeer en bied die teorie om hierdie verhoudings te verander volgens wat dit behoort te wees.[7] Benewens kritiese teorie het ook postmoderne en poststrukturalistiese filosofie in die 20ste eeu invloedryk geword. Hierdie filosofieë word gekenmerk deur relativisme, asook ’n sterk klem op magsverhoudings in die “konstruksie” van ons wêreldsiening.[8] Postmoderne en poststrukturalistiese filosofie deel dus kritiese teorie se teenkanting teen enige vorm van hiërargie, tradisies of magstrukture, asook die idee dat ongelykheid in enige vorm of sfeer van die samelewing onaanvaarbaar is. As gevolg van hierdie oorvleueling tussen kritiese teorie, postmodernisme en poststrukturalisme is hierdie filosofieë deur die Britse filosoof Roger Scruton onder die term “Nuwe Linksgesindheid” saamgegroepeer.

Waarom maatskaplike geregtigheid misluk

Omdat die filosofie van maatskaplike geregtigheid aanvoer dat enige vorm van ongelykheid onregverdig is, bevorder dit ’n onverbiddelike egalitêre filosofie om hierdie ongelykheid uit te wis. Die wyse om dit te doen, is om die samelewing radikaal te herstruktureer sodat bevoorregting, hiërargieë of enige ander vorm van ongelykheid te bowe gekom kan word. Die Oostenrykse ekonoom F.A. Hayek was een van die voorste intellektueles wat die allesomvattende fokus op maatskaplike geregtigheid in die Westerse wêreld gekritiseer het. Hy het aangevoer dat maatskaplike geregtigheid ’n “lugspieëling” is, aangesien die kollektivistiese uitkoms, naamlik maatskaplike geregtigheid, nie verwesenlik kan word nie as die sterk klem wat in Westerse beskawings op vryheid geplaas word in aanmerking geneem word. Hierdie argument van Hayek volg dus die logika dat absolute gelykheid van uitkoms in elke sfeer van die samelewing nie verkry kan word sonder om noodwendig op individuele vryhede inbreuk te maak nie.[9]

In sy werk Fools, frauds and firebrands: Thinkers of the New Left het Roger Scruton ook daarop gewys dat die Nuwe Linksgesindes se oogmerke om sowel vryheid as gelykheid te verkry geensins vanselfsprekend versoenbaar is nie.Dus, as vryheid die vrymaking van individuele potensiaal behels, sal sekere mense met vermoëns soos intelligensie en ambisie natuurlik uitstyg bo andere sonder hierdie eienskappe. Dit is juis hierdie weerspreking wat maatskaplike geregtigheid nie kan oplos nie, aangesien dit nie ’n definitiewe antwoord kan bied oor die mate waarin vryheid aan bande gelê moet word ten einde gelykheid in elke moontlike sfeer te verwesenlik nie.[10]

Maar in plaas daarvan om konkrete antwoorde te bied, maak maatskaplikegeregtigheidteoretici gebruik van ’n allesomvattende afkeer van alle hiërargieë en instellings as ’n instrument om hierdie onoplosbare probleem op te los. Hierdie afkeer word ’n meganisme waardeur alle handelinge wat op die bereiking van die hoogheilige doelwit van maatskaplike geregtigheid gemik is, geregverdig kan word.[11] Gevolglik kan maatskaplikegeregtigheidteoretici ook diskriminerende kwotastelsels en “positiewe” diskriminasie op grond van identiteit of ras bevorder, soos in die wydstrekkende identiteitgebaseerde kwotastelsels en raswette van Suid-Afrika. Dit is die uitnemende voorbeeld van waar die allesomvattende strewe na maatskaplike geregtigheid individuele vryhede en gelyke geleentheid ondermyn tot nadeel van die samelewing as geheel. Maatskaplike geregtigheid, soos wat dit deur die Nuwe Linksgesindes voorgestaan word, is dus niks anders nie as ’n teenstrydige, leë en erg onbillike begrip.


[1]     Plato. 2004. The republic. Hackett Publishing: Indianapolis, bl. 131–135.

[2]     Aristoteles. 2000. Nicomachean Ethics 80-90. Cambridge University Press: Cambridge, bl. 80–90.

[3]     Augustine. 2022. Augustine: On the free choice of the will, on grace and free choice, and other writings. Cambridge University Press, bl. 9–12, 19.

[4]     Aquinas, T. 2000. Treatise on law. Hackett Publishing: Indianapolis. pp. 19–21.

[5]     Kant, I. 1991. The metaphysics of morals. Cambridge: Cambridge University Press, pp. 56–65.

[6]     Rawls, J. 1999. A theory of justice. Boston: The Belkan Press of Harvard University, bl. 52–54.

[7]     Bronner, S. 2011. Critical Theory: A very short introduction. Oxford: Oxford University Press, bl. 1–8.

[8]     Aylesworth, G. 2015. “Postmodernism”. The Stanford encyclopaedia of pPhilosophy. Beskikbaar by https://plato.stanford.edu/archives/spr2015/entries/postmodernism/>. Geraadpleeg op 15 September 2022.

[9]     Hayek, F.A. 1998. Law, legislation and liberty: A new statement of the liberal principles of justice and political economy. London: Routledge, bl. 67–78, 133.

[10]   Scruton, R. 2015. Fools, frauds and firebrands: Thinkers of the New Left. [E-boek]. Introduction. Londen: Bloomsbury.

[11]   Ibid.

Reiner Duvenage | Reiner Duvenage het Filosofie, Duits en Geskiedenis aan die Universiteit van die Vrystaat gestudeer en ’n meestersgraad (cum laude) in politieke filosofie aan die Universiteit van Göttingen en die Universiteit van Krakow voltooi. Hy werk tans as veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

Similar Posts

Skryf 'n opmerking

Your email address will not be published. Required fields are marked *