Balanseertoertjies en misplaaste selfvertroue: Hoe kontrakteurs kultuur steel  

Die misplaaste selfvertroue in skeidingsvermoë

Elke hoë beskawing verval deur vanselfsprekende dinge te vergeet.

– GK Chesterton

Die moderne Westerse mens aanvaar verskeie dinge as moontlik, en neem dit as normaal aan, dikwels dinge wat nie noodwendig moontlik of normaal is of behoort te wees nie.

Een van die mees vreesaanjaende wyses waarop die aanvaarding van abnormale dinge realiseer, is skeiding. Ons ag onsself meesters van balanseertoertjies om verskillende dele van ons lewens van mekaar te skei. Daar is miskien ʼn argument uit te maak dat hierdie misplaaste selfvertroue in suksesvolle beskawings te vinde is, en dat moderne Westerlinge maar net die nuutste slagoffers is. Kyk gerus na vorige beskawings: Daar is meer as genoeg wankelfaktore wat die Romeinse of Persiese ryke laat val het, as wat ek met my lekekennis sal waag om te noem.

Die skei-beheptheid laat ons glo ons kan gesin, gemak en arbeid van mekaar skei. So ook stryd en oorwinning. Politiek en praktyk. Vermaak en kultuur.

Skei, vir die doel van hierdie skrywe, is opdeel en in aparte vakkies plaas, asof verskillende dinge totaal onafhanklik van mekaar kan bestaan met geen wedersydse relevansie of invloed nie. Die skei-beheptheid laat ons glo ons kan gesin, gemak en arbeid van mekaar skei. So ook stryd en oorwinning. Politiek en praktyk. Vermaak en kultuur.

Vanwaar ons vaste vertroue in ons eie vermoë dat ons dinge wat saamhoort, en wat selde suksesvol geskei kan word, van mekaar kan skei? Hoe is dit dat die Weste die mees voor die hand liggende, basiese beginsels van menswees, volkwees, gemeenskap met mekaar, vergeet het? Hoe is dit dat ons sien dat bisarre politieke besluite, met totaal katastrofiese uitkomste, dag na dag die Weste se verstekposisie word?

My vermoede is dat skaal ons blind gemaak het.

En skaal het kontrakteurs nodig …

Kontrakteurkultuur

Die beskawing wat sy geleerdes van sy krygers skei, se dinkwerk word deur lafaards gedoen en sy stryd word deur swape gevoer.

— Thucydides

Vir ʼn Oraniër, met ʼn vaste oortuiging dat arbeidsverhoudinge een van die eeu se groot konflikkatalisators is, is arbeid ʼn logiese plek om hierdie kontrakteurverwysing te verduidelik.

Skaalbesparing benodig arbeid. In Afrika is verskeie stelsels deur die eeue ontwikkel wat goedkoop arbeid deurlopend beskikbaar gemaak het. (Dit is geensins uniek nie: Antieke beskawings het gegroei en geval as gevolg van slawe; arbeidsbehoeftes verseker ʼn nimmereindigende stroom migrasie na die Weste; en China gebruik sommer sy eie mense op.)

Wanneer arbeid, en die uitkomste van arbeid (vrug van die werk, sukses, gemak) geskei word tussen twee groepe, is daar verskeie gevolge. Die idee dat arbeid en die vrug daarvan op skaal volhoubaar geskei kan word, is eintlik bisar.

Sedert die Uniewording van Suid-Afrika in 1910 tot nou is hulpbronne soos arbeid op skaal gekonsolideer en het dit enorme demografiese uitdagings vir Afrikaners meegebring. ʼn Klein minderheidsvolk is regoor die Unie versprei en is besig om toenemend arbeid uit te kontrakteer, en het so in ʼn 1:3- en toe ʼn 1:5- en uiteindelik in ʼn 1:15- demografiese verhouding met arbeiders begin staan.

Dit is irrasioneel om te dink dat ʼn land of geografiese gebied die kultuur van ʼn minderheid sal aanneem, eerder as die kultuur van die meerderheid.

In ʼn toenemende spesialisbestaan is arbeid egter ongelukkig nie al wat uitgekontrakteer word nie.

Die volgende is deel van ons daaglikse bestaan:

  • Moederskap (en vaderskap) word uitgekontrakteer aan sentrums, sodat ouers kan werk.
  • Opvoeding van kinders word uitgekontrakteer aan die staat of, vir diegene wat dit kan bekostig, aan privaat skole. Dit sluit die volgende geslag se fisieke, godsdienstige, akademiese en kulturele ontwikkeling in.
  • Ontspanning word uitgekontrakteer aan Netflix, SuperSport en SAB.
  • Veiligheid word uitgekontrakteer aan Trellidor, CCTV en uiters gespesialiseerde sekuriteitsondernemings.
  • Fisieke en geestelike gesondheid word uitgekontrakteer aan chemici en medici aan die ander kant van die wêreld.
  • Voedingswaarde word blindweg uitgekontrakteer aan kitskosmaatskappye en supermarkte.
  • Gesins-, familie- en liefdesverhoudinge word uitgekontrakteer aan tegnologie wat afstande moet kort maak.
  • En die eenvoudigste maar vir my een van die hartseerste dinge is dat kinders se helde uitgekontrakteer word aan Marvel en Hollywood.

Elke probleem wat die moderne Westerling het, word by wyse van finansiële transaksie (miskien ál waaroor ons nog mag het?) opgelos. Vir verhoudinge word daar betaal, spesialissielkundiges, spesialisdieetkundiges, spesialissekuriteitsdienste, spesialiskinderoppassers, spesialismentors. Elke samelewingsprobleem word op hierdie wyse hanteer … en elke verantwoordelikheid word uitgekontrakteer.     

Die groot probleem is nie net die skynvertroue dat ons arbeid en gemak, of vermaak en kultuur of opvoeding en opvoeder almal individueel kon skei nie. Die krisis lê daarin dat ʼn hele lewenswyse op spesialisasie gebou word, en dat ons glo dat die geheel nie beïnvloed word nie.

In ʼn hipergekapitaliseerde wêreld is die kultuur van massakontrakte antikultuur, juis omdat dit kultuur ondermyn. ʼn Generiese grys identiteit is nie ʼn reënboog nie.

Verbruik het die fokus geword, en skaal vereis verslawing.

Antropoloë definieer kultuur as gedeelde waardestelsels, idees, konsepte, reëls en gedrag wat ʼn samelewing gebruik om voort te bestaan. Indien die waardes gereduseer word tot kontraktuele verhoudings, bestaan die kultuur dan ooreenkomstig sodanige kontrak. ʼn Kontrak is ʼn besigheidsverhouding, en daarom word die samelewing gereduseer tot ʼn reeks transaksionele besigheidsverhoudings!

Lewensbeskouing en kultuurkoste

Almal het natuurlik die reg om hulle lewens in te rig soos wat hulle goeddink, en wat in die deel hierbo beskryf word, is nie ʼn morele lesing of teregwysing nie.

My kritiek op daardie vorm van kultuur (en dit is ʼn kultuur in die volste sin, gegewe dat dit aan al die vereistes voldoen om ʼn lewensbeskouing van sy eie te vorm) is soos volg:

  1. Dit is onvolhoubaar.
  2. Dit word geag transaksionele ooreenkomste buite ʼn waardestelsel te wees en is dus ʼn blinde kol.
  3. Die imperialisties-hoogmoedige aard van #2 skep ʼn arrogante morele verhoog wat dit ʼn keuselose uitvoerproduk maak, vir dié wat wil – en dié wat nie wil nie.

Transaksionele kontrakte as verstekkultuur het só hoofstroom geword dat enige ander vorm van kultuur as verstok, verkramp en lastig gesien word.


Transaksionele kontrakte as verstekkultuur het só hoofstroom geword dat enige ander vorm van kultuur as verstok, verkramp en lastig gesien word. ʼn Gelowige of kulturele lewensuitkyk word as die aanwesigheid van ʼn ekstra las gesien, terwyl hoofstroom-kontrakkultuur as ʼn baie pragmatiese afwesigheid van die “laste van kultuur” beskou word. By nadenke is dit duidelik onwaar, en verder: die morele, strukturele en ander koste van daardie kontrakkultuur is dalk hoër.

Identiteit en gemeenskap

Die man wat in ʼn klein gemeenskap leef, leef in ʼn veel groter wêreld. Hy weet veel meer van die heftige, onwrikbare verskeidenheid van mense … in ʼn groot gemeenskap kan ons geselskap kies. In ʼn klein gemeenskap word dit vir ons gekies. Dus, in uitgebreide en hoogs beskaafde samelewings ontstaan groepe op grond van simpatie en word die regte wêreld uitgesluit. Daar is niks ‘eng’ aan die stam nie, die ding wat werklik eng is, is die kliek.

– GK Chesterton

Die wyd gepropageerde liberale waardes van die Weste beteken waarlik absoluut niks wat betref kulturele en/of lewensuitkykkeuse as die dominante kultuur eenvoudig geen diversiteit in lewensuitkyk toelaat nie. Om die waarheid te sê, populêre media en die hoofstroomnarratief val aktief lewensuitkyke aan wat kulturele of geloofswaardes probeer hou en uitbou.

Die “keuse” van lewensuitkyk, wat op sigself ʼn lang gesprek vir ʼn ander dag is, is totaal onmoontlik as die dominante kultuur homself verhewe en buite daardie grense ag.

Ek glo daar is waarde daarin om lewensruimte vir die stel waardes wat ek ag, uit te bou. Ek glo ook dat dit die moeite werd is om ʼn lewensuitkyk daarop te grond. Dit is vir my, en ander soos ek, net moontlik in ʼn gemeenskap waar so ʼn uitkyk enigsins moontlik is.

Identiteit kan inherent nie op sy eie staan of bestaan nie. Die sukses van die propaganda van die idee van “totale individualiteit” wat so hoofstroom geword het, het bitter min uit te waai met enigiets wat enigsins in realiteit gegrond is.

Indien ʼn mens die keuse sou wou maak om jouself, en jou kinders, in ʼn ander lewensbeskouing en identiteit as die hoofstroom-kontrakkultuur te vestig, is daar ʼn geïmpliseerde nodigheid van gemeenskap. Gemeenskap kan baie vorme aanneem, maar die beste voertuig vir hierdie spesifieke doel is geografies gedefinieer, deeglik omlyn, (kultureel) vrywillig, en in ʼn mate selfonderhoudend.

Vrywillig is ʼn vereiste en die antitese vir die verlammende moderne “ewige integrasie”. Indien ʼn gemeenskap (van enige soort) nie op vrywillige verhoudinge gebaseer is nie, is dit óf ʼn tydelike noodmaatreël óf die resep vir hoë vlakke van voortdurende wrywing.

Dit is op hierdie punt lewensnoodsaaklik om te besef dat sulke gemeenskappe nie ʼn poging is om aan die realiteit te ontvlug nie, dit sal niks anders as stagnasie en kulturele versmoring tot uiteindelike ondergang tot gevolg hê nie. Identiteit is ʼn bril, nie ʼn muur nie.

Gemeenskappe kan hulle eie identiteit hê net as hulle begin “inkontrakteer” eerder as “uitkontrakteer”. (Begin by arbeid, en opvoeding en vermaak!)

Gemeenskap van gemeenskappe

Deur baie jare dat ek die Orania-idee aan die media verduidelik, het dit toenemend vir my duideliker geraak dat ek sekere konsepte makliker aan swart joernaliste van Afrikalande kan verduidelik as aan wit Europeërs – vernaam media uit Duitsland, Frankryk, Nederland en Engeland. Daar is heelwat redes wat ek kan noem of formuleer, maar dit is ook ʼn fassinerende gesprek vir ʼn ander dag.

Die relevansie hier is lewensbeskouing, wie het wat met mekaar in gemeen, en waarom?

Dalk is daar meer begrip tussen mense wat ten spyte van reuseverskille sekere dinge as logies en voor die hand liggend aanvaar. Dinge soos plek, groep, groepering rondom identiteit en tuiste.

Suid-Afrika het volgens my, ten spyte van die Britte, die tweede helfte van die vorige regering én die huidige regering se pogings, nooit ʼn “unie” geword nie. Dit is steeds ʼn diverse groep gemeenskappe, volke, tale, nasies en lewensbeskouings.

Die enigste volhoubare verhoudinge wat in Suid-Afrika, of enige ander plek, gebou kan word, is gebaseer op gemeenskappe wat selfvertroue het. Selfvertroue en tuiste is onlosmaaklik deel van identiteit, terwyl gronddreigemente en verspreiding dit afbreek.

Gemeenskappe wat selfvertroue in hulle eie identiteit het en vastigheid in hulle eie tuiste het, het die moed om met ander gemeenskappe gesprek te voer en handel te dryf.

Dít is die Orania-model.

Groepe wat tuiste en identiteit ontsê word, is sonder enige selfvertroue. Sulke gemeenskappe word in ʼn ewige wrywing, konflik en uiteindelike grys assimilasie vasgevang.

Dit is moderne Suid-Afrikanisme.

Joost Strydom

Uitvoerende Hoof van die Orania Beweging.

Similar Posts

Leave a Reply

Your email address will not be published.