Die eksklusiwiteit van inklusiwiteit
’n Mens kan die bekende gesegde van St. Bernard van Clairvaux, dat die pad na die hel uitgelê is met goeie bedoelings, verder terugvoer na Julius Ceasar se uitspraak dat slegte norme deur regverdigbare beginsels voorafgegaan word. Hoe dan ook, die punt is duidelik. Sover dit die verabsolutering van inklusiwiteit betref,’n norm wat hier te lande soveel instellings op hul knieë gedwing het, is dit nodig om verder ondersoek in te stel na die oorsprong en uitdrukkings van hierdie norm. Die goeie beginsel agter inklusiwiteit is naspeurbaar in onder meer die homo equalis gedagte by die Christendom. Dit behels enersyds die idee dat almal gelyk is voor die oë van God, maar dat erkenning vir verskillende rolle binne die liggaam van die kerk vervul word, met Christus as die hoof. Die huidige uitdrukking daarvan verg egter verdere ondersoek, gegewe die uitdagings hierbo vermeld.
Oorweeg die volgende stelling uit Marshall McLuhan se bekende boek Understanding media van 1964:
“The aspiration of our time for wholeness, empathy and depth of awareness is a natural adjunct of electric technology.”
Hieruit blyk dit dat kernwaardes van ons tyd die funksionering van die tegnologie waaraan ons blootgestel word weerspieël, in hierdie geval ons elektroniese tegnologie. McLuhan neem as inspirasie die Bybelse beginsel dat ons gedrag aanpas by die dinge wat ons waarneem (vandaar sy bekende uitspraak “The medium is the message”). In welke mate is die elektriese tydsgewrig dan noodwendig “inklusief”, en hoe vorm ons gedrag ’n spieëlbeeld daarvan?
Funksie en gedrag
Tydens die Industriële Omwenteling is ’n lineêre model van produksie gevolg, wat by produksie begin en by verbruik geëindig het. Die elektriese stroombaan, daarenteen, skep die moontlikheid om nie meer meganies-lineêr nie, maar elektronies-sirkulêr te produseer en die samelewing dienooreenkomstig in te rig. Met die skakeling van stroombane binne die fabriek met wyer netwerke (’n gonswoord van ons tyd) in die samelewing, word verbruik onmiddellik in data omgeskakel wat weer as basis dien vir produksie. Hoe groter die sirkulasie van verbruik, hoe groter is die wins. Hieruit tree die werkingsbeginsel van ons tyd duideliker na vore, weereens in McLuhan se woorde: “The electric is total and inclusive”. So totaal en inklusief het die elektriese tydsgewrig geword dat dit voorheen teenstrydige sisteme saamsnoer, te wete kapitalisme en sosialisme. Die ekonomiese bestel van ons tyd, met as hoofrolspelers China en Amerika, bevestig die soomlose samewerking in ’n toenemend geïntegreerde wêreldorde, soos weerspieël in die temas van die onlangse Davos-konferensie.
Laagste deler logika
’n Laagste gemene deler logika pas inklusiwiteit die beste (daaruit kan meer verbruikers gegenereer word), en ryke beloning en kontrakte word toegestaan aan organisasies wat dit toepas. Hoe funksioneer hierdie aspek in onderskeidelik die onderrig, die werksplek en op bestuursvlak?
In die onderrig sien ons hoe voortreflikheid en standaarde sneuwel en vervang word met minimum vereistes. Meer bepaald: maksimum hoeveelheid voldoening aan minimum vereistes word aan die bod gestel.
Wat werk aanbetref het die behoefte om take in groot hoeveelhede maklik-verwerkbare inligting te verpak, in plaas van om komplekse en intense en soms moeilik verwoordbare werk te doen, ’n wending in die begrip van werk ingebring: “In the age of instant information man ends his job of fragmented specializing and assumes the role of information gathering”. Interdissiplinêre werk, nog ’n gonswoord van ons tyd (gekoppel aan sogenaamde wholeness wat McLuhan hierbo vermeld), is dikwels niks minder nie as verwaterde aspekte van verskillende take wat saamgesnoer en in verslae verpak moet word, wat deesdae meer tyd opneem as die vervulling van voorheen gespesialiseerde primêre take.
Waar bestuurders se vernaamste taak in die elektriese tydsgewrig aanvanklik was om die voorspelbare uitset van die masjien met die wisselvallige uitsette van mense te laat korrespondeer, is korrespondensie tussen die uitsette van mense wie se bekwaamheidsvlakke hemelsbreed verskil ten einde die regte sosiale profiel te handhaaf, vandag aan die orde van die dag.
Inklusiwiteit en kansellasie
Wat is die uitwerking hiervan op die breë samelewing? Binne gemeenskappe met ’n gedeelde aanvoeling vir kultuur word waardes (sedelikheid in filosofiese taal) gekoester en vryhede toegestaan in wisselwerking met die waardes. Die een behoort nie sonder die ander te bestaan nie. Waardes word met verloop van tyd gevestig en verskaf ’n raamwerk waarrondom gedrag bepaal word. Vryheid is die willekeurige deelname of onttrekking aan hierdie gedragspatrone. Die ideaal is dat die waardes ruimtes vir vryheid skep en omgekeerd dat vryheid sal uitdrukking vind in die eerbiediging, kritiek en ook die skep van nuwe waardes. ’n Samelewing wat waardes aanhang sonder begrip vir vryheid en die teenpool (vryheid sonder inagneming van waardes wat gerespekteer word) is ewe skadelik. In ’n uitsluitlik inklusiewe samelewing affronteer waardes as sodanig, wat beteken dat vryheid slegs negatiewe inhoud kry. Vryheid beteken hier slegs ongehinderde beweging. As iemand my selfuitdrukking hinder, dan moet daardie persoon gekanselleer word. Uiteindelik bevind ons ons in die situasie waarin die klaarblyklik teenstrydige beginsels van inklusiwiteit en kansellering ewe luidrugtig tot credo verhef word. Kansellasie vind dus nie plaas ten spyte van inklusiwiteit nie, maar te wyte daaraan. Dit maak absolute inklusiwiteit absoluut uitsluitend. ’n Konkrete en eietydse voorbeeld is die wyse waarop die saak uitgemaak word vir die behoud van Afrikaans, naamlik dat mens in ag moet neem dat die meeste van die sprekers nie wit is nie, wat sprekend is van die inwerkingtreding van so ’n eksklusiewe inklusiwiteit. Hierdie negatiewe vryheid word mettertyd ’n versmorende vryheid.
Bedoeling en uitwerking
Goeie bedoelings sonder deeglike besinning oor die oorsprong van die beginsels en inagneming van die nagevolge van die toepassing daarvan, loop dikwels uit op probleme. Die probleme word geïgnoreer aangesien geen kousale verband tussen die suiwerheid van bedoeling en die negatiewe uitkoms ingesien word nie. Wanneer die goeie bedoelings gekodifiseer is in ’n wet wat veronderstel is om rekenskap met die gevolge te hou, is dit ’n stadige gif wat ’n samelewing ten gronde kan bring. Die verweer hierteen kan kwalik wees om ons koppe in die sand te steek en ons soos askete van die werklikheid te verwyder. Ons is almal kinders van ons tyd, wat beteken dat ons nie losstaan van die invloede om ons nie. Besinning en verdere debat kan egter nie omseil word nie.