Taalontwikkeling in Suid-Afrika: Die Grondwet waarborg 50%, gemeenskappe dra die res

Die onlangse UNISA-uitspraak vestig die aandag op twee waarnemings. Die eerste is dat daar tog hoop is vir die voortsetting van akademiese Afrikaans in die openbare universiteitsektor, veral indien afstandsonderrig bly groei, aan die gang gesit deur die sogenaamde “nuwe normaal” wat deur pandemietoestande veroorsaak word. Hierdie hoop spruit uit die Grondwethof se verbintenis, deur hierdie uitspraak, tot ’n samelewing wat betekenisvol meertalig is en ryker is as blote simboliek, stokperdjiemeertaligheid of Engelse taalhegemoniese toestande. Mag die uitspraak ook oplaas die einde beteken van die drogredenasie dat inklusiwiteit op verengelsing geskoei kan word: By elke instelling waar Afrikaans afgeskaf is, het daar nie transformerende meertaligheid nie maar eentalige Engelsheid posgevat, wat ’n omgewing van kulturele meerderwaardigheid deur Engelswees daarstel.

’n Tweede waarneming is dat die volgehoue stryd deur gemeenskapsverteenwoordigende organisasies, in dié geval AfriForum, tot groot suksesse vir kleiner en kwesbare taalgroepe kan lei. Dit illustreer dat die grondwetlike taalpligte op die staat en regering eers werklik gevindiseer kan word indien gemeenskappe self moue oprol.

’n Selfdoenetiek is immers wat Afrikaans (spesifiek soos deur Afrikaners gebruik, ontwikkel en gepraat) uit die kombuis gered en na openbare instellings deurgevoer en met prestige beklee het. Dit seg ek sonder afdoening aan ander etniese variante van Afrikaans, wat vandag nuwe impetus en institusionele ontwikkeling toon. Die Tweede Taalbeweging van die vroeë 20ste eeu het groot welslae behaal vir Afrikaans deur in 1925 die taal as amptelike Unietaal erken te kry. Die variant wat toe veramptelik is, was wel spesifiek die variant soos deur die meeste Afrikaners gepraat en was nie noodwendig inklusief van sprekers van kleur se variante nie, hoewel daardie invloed op moderne Standaardafrikaans onteenseglik is. Nietemin, ten spyte van die afwesigheid van ’n Pan-Afrikaanse benadering tot die verampteliking, het Afrikaner taalkundiges, skrywers, digters, joernaliste en ander denkers hard saam gesweet om Afrikaans as openbare kultuur- en funksietaal op te bou, ten einde aan hul gemeenskapservaring ’n stem te gee en voetsoolvlak- intellektuele ontwikkeling onder ’n verarmde Afrikanergemeenskap moontlik te maak. Toonaangewende reuse soos die digter, dramaturg en polemikus NP van Wyk-Louw en sy liberaal-nasionalistiese inslag het die belangrikheid van taal as ’n sameskepping van ’n hele gemeenskap, eerder as ’n blote atomistiese kommunikasiemiddel, onderstreep. Taal is inderdaad ’n argief van ’n gemeenskap se belewenisse; dit is ’n wesenlike manifestasie van menswaardigheid.

Om die vroeë Afrikaanse letterkundige en filosofiese opbloei as ’n gemene samesweringsteorie of ’n noodwendige voorganger van die Nasionale Party se apartheidsideologie af te maak, is kortsigtig, onregverdig en ongenuanseerd.

Vandag is daar heelwat om voor dankbaar te wees weens die insette van Afrikaanse denkers uit die vroeë 20ste eeu. Om die vroeë Afrikaanse letterkundige en filosofiese opbloei as ’n gemene samesweringsteorie of ’n noodwendige voorganger van die Nasionale Party se apartheidsideologie af te maak, is kortsigtig, onregverdig en ongenuanseerd. Dit maak ’n ganse bevolkingsgroep se geskiedkundige traumas, beleefde ervarings, ontwikkeling en oplaas hul bestaan as boos af. ’n Argument wat die ganse struggle geskiedenisas boos afmaak weens die Kerkstraatbomplanting, verloor byvoorbeeld ook uit die oog dat die ANC ’n trotse vroeë geskiedenis van vreedsame en beginselvaste protes geniet. Ongelukkig het dit mode geword onder sommige eietydse denkers, soos byvoorbeeld in hierdie potsending, om Standaardafrikaans as ’n “gesteelde” taal af te maak; die elemente waaruit dit bestaan kwansuis deur nasionaliste in die 1920’s toegeëien is asof Afrikaans nie reeds deur Afrikaners vir byna twee eeue voor die 1925-verampteliking gepraat is nie (ek spreek hierdie geskiedkundige disinformasie aan in ’n kort kommentaarplasing op die bogenoemde potsending, te vinde hier).

Dit is moontlik dat ’n radeloosheid onder talle gewone Afrikaners weens misdaad, die SEB-model, regeringsonbevoegdheid en ander eietydse post-1994 krisisse tot ’n moedelose ongeërgdheid en ’n défaitisme jeens Afrikaanse kultuursake gelei het. Gelukkig is daar talle organisasies met uiteenlopende politieke posisionering en ideologiese uitgangspunte wat die Afrikaanse vuurtjie aan die lewe hou. Dit bly egter waar dat relatief min Afrikaanssprekendes en Afrikaners baie hard werk om die Afrikaanse pot vir almal wat Afrikaans is aan die kook te hou, juis weens vermelde défaitisme. Afrikaanse emigrante blyk nie soos baie ander diasporiese gemeenskappe veel erns te maak met kultuur en taal waar hulle hul bevind nie. Die Afrikaanse Klub Australië is ’n uitsondering, en sterker bande kan gerus met sulke pogings gesmee word om ’n wêreldwye, blootgestelde Afrikaansheid te bevorder. Afrikaans moet haar plek op die wêreldverhoog opeis en onmisbaar wees ten einde dinamies en ingelig te groei.

Semi-onafhanklike Afrikaanse voormalige Model C-skole presteer jaar na jaar uitstekend, wat haters soos Panyaza Lesufi natuurlik die josie in maak. Model C’s moet baie tyd en hulpbronne bestee om die aanslae van hebsugtige en korrupte onderwysdepartemente af te weer, wat minder ruimte laat vir brawe stappe om kultuur- en taalkennis onder jongmense te koester. Vir Afrikaans om gesond te groei en ’n gemeenskapsin onder skoolkinders aan te moedig, moet ons skaamteloos belê in jong Afrikaanse leserskringe, aktuele en informele debatsirkels, kreatiewe skryfontwikkeling en die proaktiewe aanmoediging van Afrikaanse naskoolse studies en ambagte. Veral sakeondernemings en gemeenskapsinisiatiewe moet jongmense wat meertalig gestudeer het, veral in landstale anders as Engels, sonder skroom beloon.

Sonder ’n verligte gemeenskapsprestige wat aan Afrikaans toegeken word, sal jong Afrikaanssprekendes en Afrikaners klakkeloos in Engels studeer

Sonder ’n verligte gemeenskapsprestige wat aan Afrikaans toegeken word, sal jong Afrikaanssprekendes en Afrikaners klakkeloos in Engels studeer, weens die enorme skaalvoordele wat Engelstaligheid weens sy hegemoniese posisie geniet. Soos my kollega Daniël Eloff in hierdie Podlitiek-video uitwys, behoort die Afrikaanssprekende kind op skoolvlak reeds voorberei te word vir ’n Afrikaanse naskoolse leeromgewing. Nie net om hul te bekwaam in hul beroep nie, maar om te wys dat tersiêre kennis ook ’n geleentheid is om terug te ploeg in die gemeenskap wat jou studentesukses moontlik gemaak het.

Ten slotte is Afrikaners en ander Afrikaanssprekendes in die louwarm posisie waar daar welslae vanuit ʼn selfdoenoogpunt behaal word, maar waar die mou-oprollers min is. Om volhoubare groei aan te moedig, moet ons veral skole en universiteite as laboratoria gebruik waarbinne Afrikaans as openbare funksietaal reeds in opleidingsfase vasgelê kan word. Die feit is dat die staat en regering dikwels, en dalk selfs toenemend, geforseer gaan moet word om hul 50% inset vir Afrikaans te gee. Die Afrikaanse gemeenskap gaan self verantwoordelikheid moet neem en ons 50% gee. Sodoende word die gevolge van Engelse taalhegemonie bestuur, en sal geen instelling die vinger na Afrikaanssprekendes kan wys en beweer dat die gemeenskap self nie in Afrikaans belangstel nie.

Frederik Rudolph van Dyk

Frederik is ’n regsnavorser aan die SA Leerstoel vir Sakereg en die Direksielid van StudentePlein NWO.

FREDERIK RUDOLPH VAN DYK

Similar Posts

Skryf 'n opmerking

Your email address will not be published.