Politiek is dikwels eerder die probleem as die oplossing

Dit klink of almal deesdae praat van ’n dreigende ineenstorting van die ANC. As dié party ineenstort, beteken dit egter nie outomaties dat mense sal ophou om vir die party te stem nie. Die politieke landskap het post-1994 baie ongemaklike waarhede na vore gebring. Ek sê “ongemaklik”, want hierdie waarhede weerspreek dikwels die hoofstroom- politieke narratief wat ons aangemoedig word om te glo oor Suid-Afrika. Die mees ooglopende ongemaklike waarheid is dat die Suid-Afrikaanse droom nie heeltemal so uitwerk soos wat ons vertel is dit sou verloop nie. Voorts is stempatrone geneigd om ooreen te stem met identiteit, en weeg persepsies oor die party se identiteit swaarder as partybeleid. Wat ek hiermee bedoel is dat baie (dalk die meeste) mense eerder vir ’n korrupte party met ’n slegte rekord sal stem solank as wat hulle dink die party is aan hulle kant; hulle sal nie stem vir ’n blink nuwe party as hulle dink die party verteenwoordig nie hul belange nie. En as hulle uiteindelik alle hoop verloor en besluit om hul geloof in hul eie party vaarwel toe te roep, is hulle dikwels geneig om op te hou stem eerder as om van partykeuse te verander.

Nog ’n ongemaklike waarheid is die feit dat mense nie welvarend raak as gevolg van politieke bemoeiing nie. Sosiale toelaes bevry mense nie van armoede nie – dit maak juis dat hulle vasgevang bly in armoede. Regeringshulpprogramme (insluitend regstellende aksie) bevorder nie onafhanklikheid nie; dit veroorsaak juis afhanklikheid van regerings. Sogenaamde swartbemagtigingsbeleid bemagtig nie swart mense nie, dit verryk die elite ten koste van al die ander. Die aangaan van groot lenings om regeringsprojekte te finansier, bemagtig nie die huidige generasie nie – inteendeel, dit straf die volgende generasie wat die skuldlas moet hanteer. Verhoging in belastings om meer regeringsprojekte te finansier, bring nie armoedeverligting nie – dit beteken minder geld in die markte, wat uiteindelik lei tot minder werksgeleenthede en groter armoede. Verhogings in minimum lone beteken nie net dat mense hul werkers hoër lone betaal nie; dit lei dikwels daartoe dat mense ontslaan word – of uit die staanspoor nie in diens geneem word nie. Die regulering van besighede ten einde kwesbare groep te beskerm, beteken dat dit moeiliker word om ’n besigheid aan die gang te hou, wat lei tot ’n afname in werksgeleenthede – nie ’n toename nie. En so kan ons aangaan.

Beteken dit dat dit alles net ’n mors van geld is en dat daar geen hoop is nie? Om reguit te wees: As ons verwagtinge ongegrond is, dan is die antwoord inderwaarheid: ja. Hiermee bedoel ek dat indien ons ons hoop op die regering plaas om hierdie probleme op te los deur middel van politieke beleid, dit nie sal slaag nie. Dit het oral elders gefaal, en dit sal aanhou om te faal. Dit beteken egter nie dat die toekoms verlore is nie. Dit beteken net dat die behoefte om mense se lewensomstandighede te verbeter, nie haalbaar is deur middel van politiek nie.

In sy relevante boek van 1983, The economics and politics of race, spreek Thomas Sowell hierdie onderwerp aan. Die boek is ’n studie van verarmde, gemarginaliseerde en onderdrukte groepe oral in die wêreld, hul kultuureienskappe, hoe hierdie groepe deur ander behandel word, hoe hulle reageer op ongunstige omstandighede en of hulle daartoe in staat was om hul omstandighede te oorkom. Sowell het gevalle soos die Chinese diaspora, Europese immigrasie, en swart en gekleurde mense van oral oor die wêreld ondersoek. Sommige van hierdie groepe het daarin geslaag om hul omstandighede te oorkom. Sommige was uiters suksesvol ten spyte van hul onderdrukking. Europese Jode is ’n goeie voorbeeld hiervan. Sommige – soos die Iere – is geneig om politiek aan te gryp, terwyl ander – soos die Chinese – geneig is om glad nie om te gee oor politiek nie.

Sowell se oorkoepelende gevolgtrekking is die volgende: mense raak nie welvarend deur politiek nie. Wat veel meer saak maak as politiek en die vraag of die regte beleid in plek is, sluit sake soos werksetiek, opleiding en ontwikkeling van vaardighe en spaarsamigheid in. Hierdie kenmerke moet vanuit die gemeenskap self kom, of hulle onderdruk word of nie. Sowell het bevind dat van die wêreld se mees onderdrukte groepe ook van die mees welvarende groepe in die wêreld kan word. Faktore soos onderdrukking en diskriminasie is belangrik, maar as toekomsmoontlkhede oorweeg word, is die manier waarop hierdie groepe reageer op hul omstandighede veel belangriker. Anders gestel: Die manier waarop ’n groep mense reageer op omstandighede is veel belangriker as die omstandighede self. Of, bondiger gestel: Kultuur weeg swaarder as politiek. “Kultuur is wat saakmaak,” soos wat Samuel Huntington sou sê.

Dit beteken nie dat politiek onbelangrik is nie. Dit beteken egter wel dat pogings om die gemeenskap se probleme by wyse van regeringsbeleid op te los dikwels die slegste en mins suksesvolle roete na welvaart is. Dit is dikwels, soos wat Friedrich Hayek dit beskryf het, die pad na verknegting eerder as die pad na vryheid.`

Ja, dit is dus belangrik om die regte beleid te hê. Maar daar is `n magdom van sake wat dikwels belangriker is. As ons vasgevang raak in ’n voortdurende debat oor die regte regeringsbeleid om die samelewing se probleme op te los, is ons op die verkeerde pad. Ons moet die probleme self oplos. Burgerlike verantwoordelikheid kan nie uitgekontrakteer word nie.

Mense raak nie welvarende deur politiek nie. Politiek is dikwels eerder die probleem as die oplossing.

Ernst Roets | Ernst Roets is Head of Policy and Action at AfriForum, a documentary filmmaker and scholar in Public Law.

Similar Posts

Skryf 'n opmerking

Your email address will not be published. Required fields are marked *