DIE STRYD OM IDEES HET ONTSPOOR

Daar word vandag baie gesê oor die stryd om idees. Miljarde rande word jaarliks net in ’n arm land soos Suid-Afrika bestee deur organisasies, ideësentrums en firmas om die stryd om idees te beïnvloed. Party is selfs so ambisieus dat hulle hardop sê dat hulle daarna streef om die leier in die stryd om idees te wees. Ideësentrums in die noordelike halfrond het geweldige invloed om die stryd om idees te beïnvloed. Die stryd om idees ontaard soms in ’n bloedige oorlog – meestal darem net spreekwoordelik, maar soms ook letterlik.

Die stryd om idees het egter ontspoor. Ons het verstrengel geraak in debatte oor politieke teorie. Ons argumenteer met mekaar oor abstraksies wat nie met die werklikheid verbind is nie, en bied dan teenargumente op hierdie abstraksies deur ons eie abstraksies as oplossing voor te hou. Ons beweer dat ons dit alles doen onder die vaandel van “rasionele denke”, terwyl hierdie argumente dikwels allermins rasioneel is. Dit is irrasioneel, maar nie omdat dit intellektueel bankrot is nie. Inteendeel, dit is dikwels die gevolg van ingewikkelde denkprosesse wat uitgedruk word in ’n filosofiese taal wat bykans niemand meer verstaan nie. Dit is irrasioneel bloot om dat dit verwyderd van die werklikheid is.

Ons probleem is, soos G.K. Chesterton dit verwoord, dat ons werk met ’n “rapid hardening of a hypothesis into a theory, and of a theory into an assumption”. Mens kan aan die einde selfs byvoeg: “and of an assumption into a policy.” Nou argumenteer ons met mekaar oor watter politieke teorie die beste is, terwyl dit dikwels die geval is dat nie een van daardie teorieë op die werklikheid toegepas kan word nie. Dink maar aan die debatte waarby ons almal ingesleep word oor gelykheid. Almal is pro-gelykheid, maar niemand weet regtig wat dit beteken om pro-gelykheid te wees nie. Of die debatte oor demokrasie. Koos Malan maak die opmerking dat demokrasie vandag geen retoriese gelyke het nie. Almal is pro-demokrasie, selfs die wêreld se grootste diktators. Giovanni Sartori merk tereg op dat demokrasie “a high flown name for something that doesn’t exist” geword het. Wat beteken dit in die praktyk as ons pro-demokrasie is? Elkeen wat dit sê het iets anders in gedagte. Of individuele vryheid. Daar is min mense wat sal sê dat hulle nie met die beginsel van individuele vryheid saamstem nie, maar wat gemaak wanneer ons “regte op individuele vryheid” in die praktyk begin bots met ons behoefte om te behoort aan iets wat groter as onsself is? Daar is natuurlik baie ander voorbeelde en ek kan sekerlik nou daarvan beskuldig word dat ek hierdie kwessies oorvereenvoudig. Dit is egter nie die punt nie.

Almal is pro-gelykheid, maar niemand weet regtig wat dit beteken om pro-gelykheid te wees nie.

Die punt is wel dat die stryd om idees vandag veel meer oor politieke teorie gaan as wat dit oor die werklikheid gaan. Ons wend ons tot politieke filosowe om vir ons te verduidelik wat ons moet doen, terwyl hierdie filosowe (of ten minste baie van hulle) geen voeling met die werklikheid het nie. Hulle skryf teorieë oor hoe die wêreld ingerig moet word, maar sonder om ’n poging aan te wend om die wêreld te verstaan soos wat dit inderdaad is.

In hierdie opsig kan ons sê dat die stryd om as’t ware idees sekondêr is. Die belangrikste is die stryd in die werklikheid. Om oor politieke teorieë te argumenteer, maar in die werklikheid self niks te doen nie, is soos om op die pawiljoen te sit en die spelers op die veld te kritiseer. Die stryd om idees is krities belangrik. Dit kan egter nie volhoubaar gevoer word as die doel is om vas te stel wat die beste teorie is waarvolgens die wêreld ingerig moet word nie. Dit kan wel gevoer word wanneer dit juis daaroor wentel om die wêreld, die natuur en die mens te verstaan vir wat dit is, en op grond daarvan ons planne te maak vir daadwerklike aksie.

Dit is waar ’n instelling soos Opinor inkom. Opinor se funksie is nie om teorie voor te skryf nie. Opinor se doel is om gemeenskappe in Afrika te bemagtig sodat Afrika se mense selfstandig kan leef, groei en gedy. Ons doen dit deur die skepping en bevordering van gemeenskapsgerigte planne, strategieë en beleid deur skeppende vernuwing gegrond op beproefde waardes en ervaring wat aangewend kan word om gemeenskapselfstandigheid in Afrika te bevorder.

Die stryd om idees word aktief gevoer. Dit het egter in vele opsigte ontaard in ’n stryd teen die werklikheid – ’n stryd waarin daar aan mense voorgeskryf word wat hulle moet doen, hoe hulle moet dink en selfs erger, wie hulle moet wees – terwyl hulle in die werklikheid nie optree, dink of is soos wat daar vir hulle voorgeskryf word nie.

Ons moet ons met die praktyk bemoei, gegrond op idees wat ontwikkel is in ons soeke om die skepping, die wêreld, die natuur, die mensdom, gemeenskappe en individue te verstaan vir wat dit werklik is, eerder as om voor te skryf wat hierdie dinge in ’n utopiese wêreld veronderstel is om te wees.

Ernst Roets

Ernst Roets is Hoof van Beleid en Aksie by AfriForum, ’n dokumentêre rolprentmaker en vakkundige in publiekreg.

DIE STRYD OM IDEES HET ONTSPOOR

Similar Posts

One Comment

  1. Ja Ernst idees is net soos die Bybel net riglyne. Nie een van ons feilbare mense leef dit volmaak nie. Om byvoorbeeld te glo dat ongelykheid, armoede of selfs rassisme totaal uitgewis kan of gaan word is uiters naïef en gaan tot baie mislukte beleide aanleiding gee. Ek stem saam dat ons meer verdraagsaam moet raak teenoor ons almal se onvolmaakthede terwyl ons moet streef daarna om in relatiewe vrede prakties met mekaar saam te leef.

Skryf 'n opmerking

Your email address will not be published. Required fields are marked *