Teen die Unie

Samevatting

Suid-Afrika is ’n uiters heterogene land ten opsigte van geografie, klimaat, taal, ekonomie en ras. Gevolglik kan die sentrale regering nie beleid uitvaardig wat die behoeftes van gewone mense aanspreek sonder dat dit beheer oor die agenda-bepalende proses vir ’n betekenisvolle deel afwentel.

Die Grondwet – sowel volgens die huidige stand daarvan as wat dit bestaan het sedert die totstandkoming van die land – is egter lynreg in teenstelling met die uitdrukking van hierdie behoeftes ten einde die stabiliteit van ’n sentrale administrasie te verseker.

Hierdie benadering is aangevuur deur die hunkering om ’n nuwe nasie te smee uit baie uiteenlopende groeperinge mense, sonder hulle instemming en sonder dat hulle daaroor geraadpleeg is. Die gevolg daarvan was die vernietiging van gemeenskappe, die onderdrukking van nieregerende etniese minderhede en die versteuring van die ekonomie.

Aangesien die sentrale gesag geen ruimte laat vir ’n verskeidenheid van belange of identiteit nie, is dit gebiedend noodsaaklik om ruimte te skep vir plaaslike gemeenskappe en die provinsiale vlak van regering om hulle eiesoortige belange te verteenwoordig op die lang termyn.

’n Geskiedenis van oorheersing

Suid-Afrika leef tot dusver onder die vloek van ’n bepaalde ideaal – ’n ideaal wat bevorder en ondersteun word omdat dit gunstig is vir groot magte en gevestigde belange, sowel plaaslik as internasionaal. Dit is die vloek van ’n eenheidsregering: ’n voortdurende stryd om sentrale gesag te midde van ’n verdeelde politieke bestuursvorm.

Die Unie van Suid-Afrika (1910–1961) het tot stand gekom na afloop van die Anglo-Boereoorlog met die doelstelling om sowel die binnelandse ekonomie gebaseer op die mynwese as die handelshawens te beheer. Dit het ’n sentraal bestuurde stelsel geverg om handelsonderbrekings of ontwrigtende plaaslike opbrengstrewes te voorkom.

Dit is trouens ’n feit dat die Nasionale Konvensie van 1909 (waartydens die voorwaardes en bepalings van die nuwe Unie se grondwet geformuleer is) byeengeroep is as reaksie op die Transvaal-kolonie se besluit om die doeane-unie te verlaat.[1] Die Unie het dus nie tot stand gekom weens die belange van plaaslike elemente nie, maar weens die belange van die imperiale sentrum en die instinktiewe begeerte om sentrale beheer in te stel. Die relevansie van die uitsluiting van die inheemse bevolking van hierdie verrigtinge behoort min uitleg te verg. Die bestaan van die Unie is na my mening gerig op die inperking en onderdrukking van die belange van die inwoners daarvan, en nie op die bevordering daarvan nie.

By die Konvensie het die Afrikaner-afgevaardigdes ’n eenheidstaat verkies weens hulle kiesergetalle. Die Tafelrondegroep was ten gunste van die Unie omdat dit imperiale beheer versterk het en die moontlikheid geskep het om meer Engelse kiesers in te voer.[2] Smuts was ten gunste van ’n eenheidstaat omdat dit afskeidingsbewegings minder waarskynlik sou maak,[3] en omdat dit in ooreenstemming was met sy holistiese lewensbeskouing.

Deur die toepassing van die Milner-groep se instrumentalisering van die liberale idealisme soos voorgedra deur Jan Smuts en John X. Merriman,[4] het die federale kolonies van Suid-Afrika saamgesmelt tot ’n eenheidstaat wat sy oorheersing van die inheemse bevolking geregverdig het deur dit as ’n verligte trusteeskap voor te stel,[5] en wat die swart arbeidsmag wat na die myne gedryf kon word, vergroot het deur die negatiewe dryfveer van die ingestelde hutbelasting.

Op sekere sleuteloomblikke van radikale nasionale grondwetlike hervorming is geleenthede om mag af te wentel na provinsiale vlak laat verbygaan sonder enige weerstand; sowel in 1908[6] as in 1993.[7] En waar die Nasionale Party (NP) gepoog het om hervorming te bewerkstellig in die vorm van konsosiasie, is die model soos voorgestel in 1977[8] verwerp onder druk van verskeie progressiewe magte uit sowel binne- as buiteland, wat ’n vetostem deur ’n minderheid (’n noodsaaklike kenmerk van konsosiasie) as moreel verwerplik beskou het en by wie ’n gesentraliseerde eenheidstaat beter in die smaak geval het.

Vanweë die enorme militêre slaankrag en ekonomiese mag van die wit staat het ’n verenigde front noodsaaklik gelyk ten einde enige sinvolle opposisie te skep. Dit was die ANC wat hierdie redenasie aangegryp het en wat die party van die begin af aan georganiseer het op ’n eenheidsbasis. Dit het ingehou dat stamtradisies (dus nasionalisme in stamverband) gesien is as die vyand van bevryding. Die feit dat die ANC-leierskorps ongestraf gebly het vir die menseslagting by Shell House het duidelik gemaak dat die oproep vir Zoeloe-outonomie deur die Inkatha Vryheidsparty tydens die onderhandelinge doodgebore was.

Die hervormings wat die NP probeer deurvoer het om konsosiatiewe federalisme te bewerkstellig – soos tuislandontwikkeling, oopstelling van die arbeidsmark, die driekamerparlement, verslapping van rasbeperkings, versagting in die afdwing van segregasie – is almal beskou as morele kompromisse aangegaan in eiebelang, wat dit inderdaad ook was. Opponente het aangedring op ’n meer diepgaande transformasie wat wegbeweeg van enige vorm van separatisme, hoe afgewater ook al. Federalisme, of dit nou moes dien vir Zoeloe- of vir wit nasionalisme, was onbespreekbaar.

Die grootste deel van die huidige Suid-Afrikaanse Grondwet is opgestel ná bestudering van die VSA se grondwet asook dié van Kanada, Duitsland en ander lande van die Europese Unie.[9] Dit het die regsbasis van die land onvermydelik gegrond op die beginsels van die Westerse Verligting, wat teenstrydig is met die kultureel diepgewortelde kultuur van die inheemse meerderheid; ’n feit wat in toenemende mate aangespreek word deur hedendaagse geleerdes in politieke wetenskap en regte.[10]

Waar die grondwette van die VSA, Europa en Kanada geraadpleeg is vir die menseregteraamwerk, was die basis vir Suid-Afrika se beskeie vorm van federalisme gegrond op die Duitse voorbeeld.[11] Daar was wel enkele kompromieë ten opsigte van volle sentralisering van die staat, maar die opsie van gefederaliseerde provinsiale bestuur is gesien as die ekwivalent van apartheid. Gevolglik is ’n geringe vorm van provinsiale bestuursdeelname toegestaan, maar oor die algemeen het die sentrale regering die finale seggenskap gekry oor alle kwessies.[12]

Net soos die kolonialiste van ouds het die progressiewe opstellers van die Grondwet gekies om die indeling van provinsies te maak sonder om enigsins rekening te hou met bestaande etniese grense, ten einde ’n eenheidsdemokrasie te fasiliteer; ’n proses wat inhou dat elke etniese groep daarbinne verdeel en oorwin moet word sodat ’n enkele nasie gesmee kan word ten spyte van die groot onderlinge verskille.[13]

Hierdie anti-etnies-nasionalistiese eenheidsvoorkeur het gepaard gegaan met ’n radikale gelykheidstrewe wat voet aan die grond gekry het weens ’n hermeneutiese dubbelsinnigheid in die onderhandelde ooreenkoms. Die heel eerste beginsel van die 34 beginsels van die Konvensie vir ’n Demokratiese Suid-Afrika (KODESA) was die bewerkstelliging van gelykheid tussen rasse en geslagte.[14] Vir ’n klassieke regsgeleerde kan die betrokke beginsel slegs uitgelê word as gelykheid voor die reg, maar die ANC en die progressiewe regsgeleerdes wat betrokke was by die opstel van die Grondwet het “gelykheid” geïnterpreteer in die meer absolutistiese materiële sin van die Vryheidsmanifes.

Dit het daartoe gelei dat die huidige Grondwet ingelei word deur ’n belofte van “maatskaplike geregtigheid” (wat onderskei moet word van die ongekwalifiseerde term “geregtigheid” omdat eersgenoemde verwys na die gelykheid van sosiale groeperings). Hierby kom nog die bepalings wat rasse- en geslagsdiskriminasie as wettig beskou op voorwaarde dat dit “billik” is. Hier word daar baie speelruimte gelaat vir misbruik.

Die gelykheidstrewe maak ook die pad oop vir ’n mate van herverdeling van rykdom. Artikel 214(1)(b) van die Grondwet bepaal dat die belastinginkomste tussen provinsies verdeel moet word op “billike” wyse. Hierdeur word die staat vanuit ’n belasting­oogpunt ’n hoogs egalitaristiese instelling wat die opbrengs van doeltreffende bestuur in enige gegewe provinsie kan verminder terwyl armer provinsies hierdeur terselfdertyd nie aangemoedig word tot belastingdissipline nie.

Die partylys-stelsel verseker die oorheersing van strategie op unievlak selfs buite die regering, en word vergesel van politieke verbeelding wat net so beperk is. Enige aanpassing in provinsiale taktiek het tot gevolg dat die nasionale ideaal opgeoffer word, maar vir die opposisiepartye beteken die verlies van ’n plaaslike basis die verdamping van nasionale ambisies. Hierdie strategiese spanning bevorder etniese meerderheidstrewe, of dit nou in die vorm van Afrikaner-nasionalisme onder wit beheer was of swart nasionalisme onder algemene kiesreg.

Om hierdie feit openlik te erken, sou egter die legitimiteit van die stelsel verswak. Verandering van die nasionale karakter sonder gepaardgaande verandering in die Grondwet sou maatskaplike ingryping (“social engineering”) verg, hetsy institusioneel of deur middel van geweld; beide ondermyn die nosie van liberale demokrasie wat die grondslag vorm vir die dokument self.

Ontkenning van die werklikheid

Waar ons Grondwet ten dele federale elemente bevat, is provinsiale en plaaslike bevoegdhede sterk ingekort, en word slegs daardie plaaslike magte afgewentel wat ondergeskik is aan nasionale beleid, of wat politiek gesien irrelevant is, sodat die onderlinge verskille tussen provinsies bloot geleë is in die relatiewe vermoë wat hulle het om talent in operasionele funksies aan te lok en te behou.

So ’n opset is nie uniek in Afrika nie. ’n Resensent van die Etiopiese geleerde Yonathan Fesshe se boek-lengte verhandeling oor die onderwerp het dit soos volg uiteengesit:[15]

Almost all countries in the world have ethnically diverse populations. However [the leaders of most African countries] fear that the constitutional recognition and institutional accommodation of ethnic diversity will lead to societal disintegration and the ultimate collapse of the state. Yet, countless political conflicts have demonstrated that the denial and corresponding suppression of ethnic diversity does not at all constitute a successful nation-building strategy.

Oor die algemeen gesien, waar daar ook al ’n vorm van federalisme geïmplementeer is in Afrika, het dit uiters beperk gebly. Die state delegeer slegs ’n aantal sekondêre operasionele bevoegdhede, terwyl hulle vasklou aan sentrale beheer in regeringstelsels.[16] Suid-Afrika vorm hier geen uitsondering nie – alhoewel die provinsies sekere deelnemende funksies verrig en die hoofstedelike funksies verdeel is tussen Kaapstad, Bloemfontein en Pretoria, het hulle geen seggenskap in die opstel van hulle eie agendas met enige betekenisvolle outonomie nie.

Die reeks vernederings wat die inwoners van hierdie gebied al moes ondergaan is so ’n veelkleurige verhaal in soveel gedaantes dat daar geen enkele etniese groep is wat nie alreeds die brandende sweepslag daarvan op hulle rug gevoel het nie. Geen enkele etniese groep het die vermoë om sy eie belange uit te spel as dit ten koste gaan van die algemene belange van die ekonomiese elite nie, en hierdie elite het daarvoor gekies om almal genadeloos te oorheers deur die vorming van rasgebaseerde koalisies. In die verlede apartheid; tans aggressiewe rassekwotastelsels.

Hierdie situasie weerspieël soortgelyke ervarings elders in postkoloniale Afrika. Etniese diskriminasie en oorheersing, hetsy deur ’n minderheidsregering of deur meerderheidsonverdraagsaamheid, is kenmerkend van lande soos Zimbabwe,[17] Nigerië,[18] Rwanda en Burundi,[19] Soedan,[20]en talle meer, al vir langer as twee generasies. Gevoelens van afkeer wat ingegee word deur historiese gebeurtenisse  bepaal tot vandag toe selfs die regering se voorkeur vir die breedte van die spoorlyn.[21] En dit is onvermydelik dat dit so plaasvind.

Anders as Europa, wat sy nasiestate gekonsolideer het deur die uitoefening van gewelddadige en rou vorme van maatskaplike ingryping in die tydperk van die nasionale rewolusies, het Afrika in ’n groot mate die etnolinguistiese fragmentasie behou soos wat dit bestaan het voor koloniale eenwordingsprosesse. Dit is egter so dat min van die subnasionale etniese groeperings voldoende lede het om as nasies in hulle eie reg voort te bestaan; gevolglik moet hulle met mekaar kompeteer vir invloed deur koalisies te vorm met ander groeperings in postkoloniale state.

Vir praktiese redes en – soos so baie ander Afrika-state – ten einde die sentrale regeringspatroon in stand te hou wat vandag die voorkeur geniet, was dit noodsaaklik vir Suid-Afrika om die tale en kulture van die onderskeie streke te onderdruk ten gunste van die koloniale lingua franca (Engels), en die gebrek aan ’n gemeenskaplike identiteit moes verberg word deur ’n gemeenskaplike poging om wit mense in die algemeen, maar Afrikaners in die besonder, voor te stel as die sondebok, net soos wat plaasgevind het met minderhede elders (byvoorbeeld die Tutsi, Igbo, Ndebele asook Indiërs in Uganda).

Die uiteinde hiervan is ’n land wat oorheers word deur geleende Britse en Amerikaanse instellings met ’n bevolking wat ’n afkeer het van die waardes en erfenis wat juis die herhaalde voortbestaan van sodanige instellings ondersteun, en wat moet voorgee dat hierdie waardes universele uitdrukkings is van die menslike natuur om die voortbestaan daarvan te regverdig. Dit is ’n vorm van pretensie wat min mense nog heelhartig kan volhou.

Hierdie stand van sake lei tot openbare skisofrenie. Die publiek moet lippediens bewys aan die abstrakte voordele van diversiteit, terwyl enige iemand wat probeer om werklike bestaande diversiteit te akkommodeer, genadeloos aangeval word. Die publiek moet die deugde van ’n uitheemse grondwet besing en voorgee dat dit universeel van aard is. Dit moet voorgee dat ’n unie van nasies in effek ’n enkel nasie is, terwyl dit terselfdertyd die etniese verskeidenheid moet aanval wat juis die draers is van die kulturele inhoud wat die instellings in stand hou wat hierdie projek regverdig.

’n Betekeniskrisis

In die lang tradisie van Westerse konstitusionalisme is daar drie vorme van regering, soos afgebaken deur Aristoteles:

  • monargie/tirannie (regering deur een persoon);
  • aristokrasie/oligargie (regering deur enkelinge); en
  • politieke bestuursvorm/demokrasie (regering deur vele)

Die Romeine het hierdie vorme gekombineer in hulle veronderstelde perfekte republiek, waarvan die onderliggende teorie van funksionering die beste uiteengesit is deur Cicero. Soos wat Cicero so skerp waargeneem het: omdat republieke regeer in die naam van die volk (res publica oftewel “openbare entiteit”), word hulle eenheid óf gedefinieer in terme van die volkskarakter, óf dit is ’n tirannie wat van tyd tot tyd sal opbreek en wat om die beurt oorheers sal word deur onverbiddelik beskroomde faksies. Sodanige eenheid is gebou op ’n gemeenskaplike sin van belange en geregtigheid wat die raamwerk vorm vir beleid en hervorming. Hierdie gedeelde algemene sin vir die werklikheid, selfs al verskil die middele waarmee die gemeenskaplike doele behaal moet word, maak die doelstellings onderhandelbaar en sodoende kan faksies met mekaar versoen word. Die staatsdiens en burgerlike deugsaamheid is gegrond op die erkenning van sulke gemeenskaplike waardes.

Dit is ongelukkig so dat die waardes waarop die Grondwet van Suid-Afrika gebaseer is, nie die waardes verteenwoordig van die oorgrote meerderheid van die bevolking nie. Die regerende minderheid (wat nie ’n etniese minderheid is nie, maar eerder ’n groepering wat almal oortuig is van die basiese liberaal-progressiewe program) volg ’n tradisie wat gebaseer is op Europese verligtingsideale (“menseregte”) gekombineer met 20e-eeuse Amerikaanse progressiewe denke (“sosiale geregtigheid”).

Hierdie benadering bevoordeel oor die algemeen die liberale neigings van die Engelse minderheid asook van hulle wat die waardes uitdra wat opgehemel word deur die Amerikaanse kultuurindustrie en die elite se onderwysstelsel. In teenstelling hiermee word die Afrikaner se ethnos gewoonlik gestuur deur christelike waardes en ’n gedeelde geskiedenis wat verbintenis met die land insluit wat voorafgaan aan die Franse Rewolusie en wat derhalwe gekenmerk word deur ’n hoogs konserwatiewe etos. Soortgelyke veralgemenings kan ook gemaak word ten opsigte van ander groeperings.

Baie verstedelikte Afrikane bevind hulle iewers tussen tradisie en moderniteit in hulle lewensbeskouing, en dit is moeilik om die omvang van enige van hierdie neigings te bepaal in die algemene bevolking. Die verdeling tussen marxistiese, rasgebaseerde en tradisionele neigings het gelei tot diep klowe tussen plattelandse en stedelike bevolkings ten opsigte van hulle politieke verwagtings.

Die oorheersende trant in die akademie en politiek sedert 2015 is egter gekenmerk deur ’n kombinasie van Fanon se filosofie van “therapeutic slaughter”, Kimberlé Crenshaw se Amerikaanse “progressive caste system” en die gedagtegoed van die Swart Bewussyn, ’n rasgebaseerde nasionalisme wat teoretiese gelykberegtiging voorhou vir mense van kleur wat kan aanpas by Afrika-kultuur soos gedefinieer deur die tradisie van ubuntu, maar wat verwyderd leef van die tradisionele instellings daarvan en wat in die plek daarvan die marxistiese politieke ekonomie aanhang.

Ubuntu se tipiese vorm van antropogesentreerde burgerskap stel politieke uitsluiting gelyk aan ontmensliking. Insluiting van vreemdelinge het dus deel uitgemaak van hulle menswees totdat vroue uitgehuwelik is of mans geïnisieer is om die misterie van isiNtu te verstaan; die spirituele essensie van die gemeenskap.[22] Tradisie het egter ook voorgeskryf dat bekeerlinge tot die christendom tereggestel moes word.[23]

Vreemd genoeg is die moderne tradisionele genesers juis in oorgroot meerderheid christene, terwyl die verstedelikte sinkretistiese kultuur van die “New African” (soos Jordan K. Ngubane[24] die opkomende swart gemeenskap onder die invloed van wit Suid-Afrika genoem het) ’n stedelike elite voortgebring het onder die huidige invloed van die Swartbewussynsbeweging, waarin marxistiese politieke ekonomie vermeng is met ’n rasbewuste vorm van ubuntu en ’n reaksionêre terugkeer na paganistiese spiritualisme, alhoewel met verminderde kontak met tradisionele kulturele instellings.[25]

Die tradisionele neiging om geduldig konsensus na te streef, voor ’n tradisionele leier wat uitspraak doen oor die eenparige beslissing,[26] is vervang deur ’n tipe rewolusionêre partypolitieke absolutisme wat min besware het teen die gebruik van gewelddadige onderdrukking en moord om af te reken met andersdenkendes. Hierdie benadering is deur Ngubane[27] uitgewys as ’n tipiese eienskap van die PAC, wat hy beskou het as die opkomende neiging – ’n siening wat bevestig word deur die volksoorlogstrategie (“people’s war”) van die ANC in die jaar wat gevolg het op hierdie uitspraak: totale vernietiging van opponerende bevrydingsbewegings ten einde die bevolking tot ’n eenheid te smee deur gebruik te maak van enige moontlike metode.[28]

Alhoewel hierdie doelstelling behaal is, is die uiteindelike doelwit – naamlik die herowering van die materiële welvaart van die (wit) minderheid – gedwarsboom deur sekere harde werklikhede. Die huidige bedeling is ’n kompromie wat ontstaan het uit die politieke dooiepunt tussen wit en swart mag van ’n generasie terug. Intussen het die toepassing van swart ekonomiese bemagtiging (SEB) deur die ANC en omkopery deur die privaat sektor die sakebelange van die voormalige oligargie verstrengel laat raak met dié van die huidige leierskap.

Die ANC het die tradisionele gesagsorgane ook tot ’n groot mate op ’n syspoor geplaas (buiten vir ’n kort tydperk onder Jacob Zuma) en het min of geen voorsiening gemaak vir die bevordering van inheemse swart tale nie. Dit het die “New African” bevoordeel teenoor die sogenaamde verdelende en stamgebaseerde kulturele groeperings. Gerigte pogings word tans in die werk gestel om die Zoeloe-monargie te hervorm deur middel van die Ingonyama Trust, wat deur sommiges gesien word as ’n aanval op die monargie.

Die gevolge van SEB en beleidsrigtings wat daarmee saamhang (regstellende aksie en grondhervorming) het nóg daartoe gelei dat die wit oligargie sy greep op die ekonomie verloor het nie, nóg tot armoedeverligting, maar het wel die pad na welvaart geblokkeer deur ’n wurggreep op die ekonomie en die wegvreet van die vaardighede wat nodig is om die volgende generasie op te voed om produktiewe posisies binne die stelsel in te neem.

Waar vertroue in amptelike instellings in die afgelope jare gedaal het en die bevolking verstedelik het, is die rewolusionêre kultuur van gewelddadigheid en terreur asook die groepsgebaseerde bewussyn van ubuntu losgemaak van die institusionele konteks en dit het ’n eie lewe begin voer in die akademie en op straat. Op die vlak van die elite het die neiging tot ’n sintese tussen ubuntu en rewolusionêre marxisme gelei tot ’n ideologie wat bekend geword het as “fallisme”. Dit toon groot ooreenkoms met die Duitse nasionaal-sosialisme, maar het toegevoegde elemente van die Amerikaanse seksuele progressivisme. Op straatvlak het Swart Bewussyn en die ANC se mafiataktiek by geleentheid gelei tot xenofobiese pogroms en straatberegting deur milisies. Hierdie verskynsels kom nou tot rypheid in die nasionalisme van Ngubane se “New African”, deur middel van Operasie Dudula en die “#PutSouthAfricaFirst”-beweging.

Daar is tans geen werklike alternatiewe vir die nasionale vraagstukke nie, buiten vir die pogings van minderheidsbewegings wat separatisme voorstaan, soos die Kaapse separatiste of voorstanders van ’n Afrikaner-enklawe.

Die toekoms – oorheersing of desentralisasie?

Watter gevolge vloei voort uit die bespreekte tendense? Samevattend is die essensie daarvan ’n teenstelling: die politieke stelsel wat tot stand gekom het deur die Suid-Afrikaanse Grondwet (beide die geskrewe dokument en die uitlewing daarvan deur die bevolking en hulle regering) skep sowel ’n “winner-takes-all”-kompetisie om die sentrale gesag te domineer as ’n duidelike onvermoë om beheer daaroor uit te oefen.

Verlore vertroue, historiese griewe, materiële ongelykheid en die wrywing tussen kultuur en gekodifiseerde instellings maak die soektog na ’n betekenisvolle gemeenskaplike basis onmoontlik, tensy dit geskied teen die wil van nie slegs die meerderheid nie, maar teen al die mense binne die staat onderskeidelik. In ’n verhelderende studie het Banerjee en Paneh[29] bevind dat kiesers wat op grond van etnisiteit stem, minder belangstel in die vraag of kandidate korrup of onbekwaam is. Die gevolge hiervan vir ’n verskeidenheid van lande, sou hierdie bevindings algemeen toepasbaar wees, is duidelik: indien etniese verdeling enige politieke prominensie het, sal dit die gehalte van bestuur negatief beïnvloed.

Tans is dit so dat die partye wat gekant is teen die rassekwotastelsel (die Demokratiese Alliansie, die Afrika Christen Demokratiese Party en die Vryheidsfront Plus) nie ’n groot genoeg stemaandeel het om ’n bedreiging in te hou vir die status quo nie. Dit beteken dat dit hoogs onwaarskynlik is dat die huidige stand van sake sal verander. Die huidige populistiese beleidsrigting sal waarskynlik voortgesit en selfs uitgebrei word. Gevolglik sal die agteruitgang van beheer oor die ekonomie en die regstaat wat die afgelope jare waargeneem is, ook voortduur, waardeur meer buitelandse beleggers afgeskrik en plaaslike kapitaalvlug aangemoedig sal word.

Om in beheer te bly, sal enige regerende koalisie sy vennote moet vergoed, op soortgelyke wyse as wat ANC-takke beloon word om voortgesette lojaliteit te verseker. ’n Bose kringloop van korrupsie en begunstiging, verbind met ekonomie-vernietigende populisme, sal die kragte werksaam binne politieke wedywering verhoog. Die staat sal verswak en die magsbalans sal in die hande val van informele en onwettige rolspelers.

Dit is tans onduidelik hoe die verskeidenheid van mense in Suid-Afrika oorreed sal kan word om hulle lotsbestemming te soek in die afwenteling van mag; die kulturele aandryfkrag van die eenheidstrewe is immers baie diep gewortel. Op die huidige tydstip is daar slegs die Kaapse onafhanklikheidsbeweging, alhoewel ander na vore mag kom indien ’n presedent gestel word. Alhoewel die sukses van hierdie beweging onseker is, sal ’n gedeeltelike sukses moontlik reeds daartoe kan bydra om ’n mate van plaaslike beheer terug te gryp, en daardeur die kompetisiedruk te verlig wat die politieke wedywering op nasionale vlak kenmerk.

Dit is egter duidelik dat die afwenteling van mag na die provinsies bepaalde voordele sal inhou. In die eerste plek sal die oorgee van beheer oor belangrike kwessie aan die provinsies die koste van sentrale regering aansienlik verminder. Dit sal ook provinsies daartoe in staat stel om hulle beleid pas te maak vir die plaaslike ekonomiese, demografiese en geografiese werklikhede, wat onderling sterk wissel. Dit sal byvoorbeeld die regering daartoe in staat stel om die onderskeie plaaslike taalgroeperings beter te verteenwoordig. Net so sal die droër Kaapse provinsies in staat gestel word om gepaste waterbestuur- en landboubeleid te formuleer. Hierdie provinsies, wat grotendeels bestaan uit rasminderhede, kan dan ook die rassekwotastelsel verminder of selfs afskaf, wat tans ’n onregmatige oorheersingseffek deur die swart meerderheid teweegbring in die ooste van die land.

Tweedens sal die wedyweringsdruk vir beheer van die unie as geheel beduidend afneem. Plaaslike politiek sal uiteenlopende kenmerke ontwikkel en sal daardeur meer toepaslik wees. Waar die fundamentele spanning wat geskep is tussen binnelandse hulpbronne en beskikbare hawens sal bly bestaan, sal dit ’n probleem wees wat hoofsaaklik geld vir Gauteng en KwaZulu-Natal.

Laastens sal afwenteling van mag lei tot ’n veel hoër vlak van rekenskap gee en verantwoording aflê. Die blote sosiale afstand tussen die kieser en sy politieke verteenwoordiger word grootliks verminder deur die kleiner afmeting van die kiesdistrik. Elke afwenteling van mag gee aan die kieser groter outonomie en verleen groter krag aan elke stem wat uitgebring word. Vanselfsprekend is daar is natuurlike grense wat geld vir hierdie proses, maar die vlak daarvan is baie laer geleë as die provinsiale vlak.

Die beste salf wat ons kan smeer op die wonde van die nasie is om die mag en uitwerking van kunsmatige koloniale grense en die gepaardgaande instellings op die lewens van die bevolking te verminder. En indien die sentrale gesag nie rede insien nie, indien hulle volhou met die begeerte om te oorheers, dan kan dit gebeur dat mosies vir afskeiding nie net meer gereeld sal voorkom nie, maar ook dat dit in toenemende mate geregverdig sal wees.


[1]    Devenish, G.E. 2011. The South Africa Act revisited: Some constitutional and political reflections on lessons learnt from the centenary of the Union of South Africa in 1910. Obiter 32(1):111. DOI: https//doi.org/10.17159/obiter.v32i1.12311.

[2]    Wilson, M. & Thompson, L.M. 1971. (Reds). The Oxford history of South Africa. Volume II: South Africa 1870–1966, bl. 346.

[3]    Smuts het self die Amerikaanse Burgeroorlog aangehaal as ’n waarskuwing vir enige vorm van federale bestuur. Sien: Blom-Cooper, L. 2013. Jan Christiaan Smuts (1870–1950): MiddleTemplar extraordinary. Advocate 26(2):40. Beskikbaar by https://www.gcbsa.co.za/law-journals/2013/august/2013-august-vol026-no2-pp40-44.pdf. Geraadpleeg op 28 Junie 2022.

[4]    Vir ’n indringende bespreking van die werking van hierdie kring van politieke invloed is die gesaghebbende bron die volgende: Quigley, C. 1981. Anglo-American Establishment. Rancho Palos Verdes, Kalifornië: G.S.G. Waar daar soms beweer word dat Smuts uitgesluit is van die Milner-groep vanweë sy Afrikanerherkoms (sien byvoorbeeld: Williams, B. 1946. Botha, Smuts and South Africa. Londen: Hodder & Stoughton, bl. 52–53), wys Quigley se onderhoude met kernlede van die groep in ’n ander rigting – naamlik dat Smuts ’n onontbeerlike en entoesiastiese lid van die groep was sedert 1903 (Quigley 1981:ix) en selfs een van die binnekringleiers vanaf 1925 (1981:48).

[5]    Devenish, G.E. 2011. The South African Act revisited: Some constitutional and political reflections on lessons learnt from the centenary of the Union of South Africa in 1910. Obiter 32(1):110–111. DOI: https//doi.org/10.17159/obiter.v32i1.12311. Dit dien as ’n bondige samevatting van die openbare regverdiging vir ’n eenheidsregering.

[6]    Davenport. T. & Saunders, C. 2000. South Africa: A modern history. New York: Springer, p. 259.

[7]    Inman, R.P. & Rubinfeld, D.L. 2005. Federalism and the democratic transition: Lessons from South Africa. American Economic Review 95(2): 3–43. Inman en Rubinsfield voer aan dat die graad van afwenteling wat wel toegestaan is, essensieel was vir die gladde funksionering van die Suid-Afrikaanse staat in die oorgangsperiode, maar merk op dat daar sterk teenstand was teen die gedagte om enige subnasionale outonomie toe te staan.

[8]    Vosloo, W. B. 1979. Consociational democracy as a means to accomplish peaceful political change in South Africa: An evaluation of the constitutional change proposed by the National Party in 1977. Politikon 6(1):13–28. DOI: https://doi.org/10.1080/02589347908704745 .

[9]    Davis, D.M. 2003. Constitutional borrowing: The influence of legal culture and local history in the reconstitution of comparative influence: The South African experience. International Journal of Constitutional Law 1(2):181–195. DOI: https://doi.org/10.1093.icon/1.2.181.

[10]  Sien die volgende bronne:

  • Ngcukaitobi, T. 2018. The land is ours: Black lawyers and the birth of constitutionalism in South Africa. Midrand: Penguin Random House.
  • Dladla, N. 2020. Here is a table: A philosophical essay on history and race/ism. Stellenbosch: African Sun Media.
  • Klug, H. 2018. Decolonisation, compensation and constitutionalism: Land, wealth and the sustainability of constitutionalism in post-apartheid South Africa. South African Journal on Human Rights 34(3):469–491. DOI: https://hdl.handle.net/10520/EJC-13b87af64b.
  • Madlingozi, T. 2018. Mayibuye iAfrika?: Disjunctive inclusions and black strivings for constitution and belonging in “South Africa”. PhD-proefskrif, Universiteit van Londen.

[11]  Sien die volgende bronne:

  • Van der Westhuizen, J. 2005. South Africa (Republic of South Africa). In: Griffiths, A.L. & Nerenberg, K. (reds.). Handbook of federal countries. Montreal: McGill-Queen’s University Press, bl. 312.
  • Van Niekerk, R. 2012. Revisiting history: The creation of provinces and the politics of social policy in a democratic South Africa. Social Policy & Administration 46(6):619–635. DOI: https://doi.org/10.1111/j.1467-9515.2012.00859.x.

[12]  Van der Westhuizen, J. 2005. South Africa (Republic of South Africa). In: Griffiths, A.L. & Nerenberg, K. (reds.). Handbook of federal countries. Montreal: McGill-Queen’s University Press, pp. 311–312.

[13]  Van Niekerk, R. 2012. Revisiting history: The creation of provinces and the politics of social policy in a democratic South Africa. Social Policy & Administration 46(6):619–635 DOI: https://doi.org/10.1111/j.1467-9515.2012.00859.x.

[14]  Davis, D.M. 2003. Constitutional borrowing: The influence of legal culture and local history in the reconstitution of comparative influence: The South African experience. International Journal of Constitutional Law 1(2):181–195, 189. DOI: https://doi/10.1093/icon/1.2.181.

[15] Van der Beken, C. 2012. Ethnic diversity and federalism. Constitution making in South Africa and Ethiopia. Yonatan Tesfaye Fessha. Ashgate Farnham, Surrey and Burlington VT, 2012. Afrika Focus 25(1):109–113. DOI: https://doi.org/10.21825/af.v25i1.18065.

[16] Dickovick, J.T. 2014. Federalism in Africa: Origins, operation and (in)significance. Regional & Federal Studies 24(5):553–570. DOI: https://doi.org/10.1080/13597566.2014.971770.

[17] Musemwa, M. 2006. Disciplining a ‘dissident’ city: Hydropolitics in the city of Bulawayo, Matabeleland, Zimbabwe, 1980–1994. Journal of Southern African Studies 32(2):239-254. DOI: https://doi.org/10/1080/03057070600656119.

[18] Attoh, F. & Soyombo, O. 2011. The politics of ethnic balancing in Nigeria. International journal of Sociology and Anthropology 3(2):40–44. DOI: https://doi.org/10.5897/ISJA.9000088.

[19] Maguire, L. 1995. Power ethnicized: The pursuit of protection and participation in Rwanda and Burundi. Buffalo Journal of International Law 2(1):49. Beskikbaar by https://digitalcommons.law.buffalo.edu/bijl/vol2/1ss1/2. Geraadpleeg op 28 Junie 2022.

[20] A/Salam, E.A. 2008. The politicization of ethnic sentiments in the Sudan: Implications for nation-building. Journal of Third World Studies 25(1):111–135. Beskikbaar by https://www.jstor.org/stable/45194440. Geraadpleeg op 28 Junie 2022.

[21] Departement van Vervoer. 2022. White Paper on the National Rail Policy. Government Gazette 46356:3–4. Beskikbaar by https://www.gov.za/sites/default/files/gcis_document/202205/46356gon2077.pdf. Geraadpleeg op 28 Junie 2022.

[22] Dladla, N. 2017. Towards an African critical philosophy of race: Ubuntu as a philo-praxis of liberation. Filosofia Theoretica: Journal of African Philosophy, Culture and Religions 6(1):53–54. Beskikbaar by https://hdl.handle.net/10520/EJC-88e3bae74. Geraadpleeg op 28 Junie 2022.

[23] Ngubane, J.K. 1979. Conflict of minds. New York: Books in Focus, bl. 10–11.

[24] Id., bl. 5.

[25] Aangetoon deur dinkers soos Ndumiso Dladla, Lwazi Lushaba en Mogobe Ramose.

[26] Vir ’n deeglike ontleding van die instelling soos dit tans staan, sien: Williams, J.M. 2010. Chieftaincy, the state, and democracy: Political legitimacy in post-apartheid South Africa. Bloomington: Indiana University Press.

[27] Ngubane, J.K. 1979. Conflict of minds. New York: Books in Focus, p. 16.

[28] Anthea Jeffery se nou bekende boek oor die tydperk aanvaar hierdie as ’n algemene waarheid. Sien: Jeffery, A. 2014. People’s war: New light on the struggle for South Africa. Pretoria: Jonathan Ball.

[29] Banerjee, A.V., & Pande, R. 2007. Parochial politics: Ethnic preferences and politician corruption. CEPR Discussion Paper DP6381. Beskikbaar by https://papers.ssrn.com/sol3/papers.cfm?abstract_id=1136706. Geraadpleeg op 28 Junie 2022.

Similar Posts

Skryf 'n opmerking

Your email address will not be published.