Om jou naaste lief te hê soos jouself, verstaan as heilige bevel
Vir hulle wat in Suid-Afrika, of met die Suid-Afrikaanse regering, sake wil doen, is die idee van rasgebaseerde voorkeurpraktyke nie ’n nuwe fenomeen nie. Inteendeel, dit is in so ’n groot mate deel van die bestaande orde dat sakeondernemings gereeld aanstellings maak en selfs afdelings op die been bring wat spesifiek op die hantering van en voldoening aan Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) en al die vereistes wat daarmee saamgaan, toegespits is. Baie is al oor dié tema geskryf, gedebatteer en geredekawel, maar die president se herhaalde opmerkings dat SEB “hier is om te bly” het die tema weer na die oppervlak laat styg, waar dit weereens tussen die golwe van menings en analises kan kom dobber. Daar is ’n hele spul geykte standpunte en clichés aan albei kante van hierdie kwessie, in die meeste gevalle regstegnies, konstitusioneel of breedweg neo-Marxisties. Wat dikwels ontbreek, is kommentaar gebaseer op geloof, ’n toedrag van sake wat in ’n land so diep gelowig soos Suid-Afrika vreemd is. Hier word aanvanklike gedagtes rondom so ’n beskouing aangebied.
Die Evangelie volgens Matteus, die eerste boek van die Nuwe Testament, vertel in hoofstukke 19 tot 23 hoe Jesus deur die skrifgeleerdes in Jerusalem uitgedaag is oor verskeie sake, onder andere rykdom, huwelik en tempeldiens. Naby die einde van Matteus 22 kom een so ’n wetgeleerde, ’n Fariseër, en probeer Jesus vasvra met die vraag: “Wat is die grootste gebod in die wet?” Die antwoord, mens sou dalk kon sê die bekende antwoord, lui dan:
Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die grootste en die eerste gebod. En die tweede, wat hiermee gelykstaan, is: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.[1]
Veral die laaste sin, dat die Christen sy naaste moet liefhê soos homself, is in die geval van hierdie tema van toepassing. Wat op aarde, kan dalk gevra word, het naasteliefde dan tog met Swart Ekonomiese Bemagtiging te doen? Die vraag behoort dalk eerder gevra te word wat naasteliefde werklik is, en of ’n owerheid die reg het om in te druis teen ’n geloofsbevel, soos dié van Matteus 22:39. Word hierdie vrae onder die vergrootglas geplaas, dan steek daar skielik heelwat meer agter hierdie saak as wat aanvanklik na vore kom.
Die Protestantse politieke denker Johannes Althusius (1560–1638), ’n denker oor wie daar helaas nie naastenby genoeg gepraat en gedink word nie, bied in sy tydlose en briljante boek Politica[2] ’n interpretasie van Matteus 22:39 aan wat flink van voet deur die eeue eggo, en wat ook vandag ’n lig in die donker wil wees. Hy skryf:
Die ganse tweede tafel van die Dekaloog[3] het hierop betrekking: “jy moet jou naaste liefhê soos jouself”; “wat ook al jy nie aan jouself gedoen wil hê nie, doen dit nie aan ander nie”; “leef eerbaar, benadeel niemand, en gee aan elk wat hom toekom”. Van watter nut vir enigiemand is ’n weggesteekte skat, of ’n wyse man wat sy dienste vir die gemeenskap weier?[4]
Van watter nut is ’n weggesteekte skat? Dit is vir Althusius duidelik dat die mens juis talente ontvang het om dit in diens van die gemeenskap aan te wend. Wie weier om sy of haar talente aan te wend ten einde ’n goeie of ten minste ’n beter gemeenskap daar te stel, is nie net besig om te fouteer nie, maar te sondig. Jy moet jou heel beste gee – dink maar aan die arm weduwee van wie die Evangelie volgens Markus vertel, hierdie vrou wat haar twee muntstukkies aanbied, word geprys want “sy het in haar gebrek alles ingegooi wat sy gehad het.”[5] Haar beste het sy nie teruggehou nie.
Wanneer elke lid van ’n gemeenskap sy en haar beste in diens van die algemene welsyn aanbied, dus hulle talente, hulle produkte of hulle dienste, dan staan dit die gemeenskap natuurlik vry om die beste talente, produkte en dienste vanuit dit wat aangebied is, te kies en aan te wend. Dit wat die beste is, is noodwendig die talente, produkte en dienste wat, gebaseer op meriete, die beste in die behoefte van die gemeenskap voorsien, moontlik met inagneming van geskiktheid, toereikendheid en bekostigbaarheid. As ’n gemeenskap dus ’n nuwe teerpad benodig van een dorp na die volgende, dan sal Matteus 22:39 volgens Althusius se verstaan van sake beteken dat die dorp se siviele ingenieurs almal hul tenders ter oorweging moet indien, om sodoende in diens van die gemeenskap te staan. Gebaseer op die geskiktheid van die tenders, die mate waarin dit die probleem die hoof bied, en die prys wat vir die werk gevra word, sal die gemeenskap, deur middel van amptenare wat op ’n soortgelyke basis aangestel is, die beste besluit in diens van die algemene welsyn neem. ’n Tender wat foutief is, nie die volle probleem die hoof bied nie of onbekostigbaar is, sal noodwendig verwerp word, maar uiteindelik word meriete as enigste maatstaf aangewend om die beste aanbod op te spoor en te aanvaar. Na dese kan die gemeenskap makliker van dorp A na dorp B reis, makliker handel dryf, sosialiseer en floreer.
Wat sou nou gebeur as hierdie of ’n soortgelyke benadering van meriete agtertoe gestoot word ten gunste van ’n ander maatstaf, een wat nie die persoon of die gemeenskap se beste belang op die hart het nie, maar wat ’n alternatiewe doel, dikwels ’n utopiese of politieke doel, nastreef? Op die mees abstrakte vlak dus, wat sou gebeur as persoon A verbied word om sy tender in te dien, al sou hierdie tender moontlik, gebaseer op meriete, die beste wees? Die eerste gevolg van so ’n besluit sou wees dat persoon A nie getrou kan wees aan die Bybelse opdrag om jou naaste lief te hê nie, want hy of sy word deur ’n wet of bepaling, dus deur ’n owerheid, verbied om sy talente, produkte of dienste te lewer. Hier is daar dan reeds, indien die logika tot dusver aanvaar word, ’n morele dilemma vir die Christen: Geloof beveel presies die pad wat die owerheid verbied. Die tweede gevolg van so ’n besluit sou wees dat die tender moontlik aan ’n persoon of organisasie toegestaan sou word wat nie die beste is nie, omdat ’n beter tender verbied is. Gevolglik aanvaar die gemeenskap noodgedwonge ’n bod wat nie die geskikste, toereikendste of bekostigbaarste is nie. Die gemeenskap ly daaronder: hetsy deur die onnodig groot knou wat die bankrekening aangedoen word, of deur die ontoereikende nut wat uit die talent, diens of produk geput word, of deur ’n ontoereikende oplossing vir die aanvanklike probleem – wat ’n volgende tender noodsaak.
Om samevattend terug te kom na SEB en die wyse waarop tenders onder leiding van die ANC toegeken word, moet dit duidelik wees dat sodanige wetgewing miljoene mense daarvan weerhou om hul naaste ten volle lief te hê deur te gee wat hulle het om aan te bied. Dit behoort verder duidelik te wees dat die gemeenskap uiteindelik hieronder ly. Dat die gemeenskap ook in Suid-Afrika hieronder ly, blyk uit die kerse in ons kaste, die diesel in ons opwekkers en die skade aan ons voertuie se wiele. Dat die individu verhinder word om sy beste te gee, word eweneens verklap deur die talle Suid-Afrikaanse geleerdes in Amsterdam, Toronto en Sydney, terwyl Kubane in sukkel-Spaans die Pretorianer by die staatshospitaal inwag.
[1] Matteus 22:39. Die Afrikaanse vertaling van 1983 is hier en elders gebruik.
[2] Die derde weergawe van Althusius se Politica, wat in 1614 verskyn het, is gratis beskikbaar by: https://oll.libertyfund.org/title/althusius-politica. Die aanhaling kom uit Boek I.
[3] Dekaloog beteken “Tien woorde” in Grieks, en beteken in teologiese terme altyd die Tien Gebooie, wat volgens Eksodus 20:1–17 aan die Israeliete in die woestyn gegee is om hul lewens daarvolgens in te rig. Die tweede tafel, waarna Althusius verwys, is gebooie 5–10, dus die gebooie wat met mense se verhoudings onder mekaar te doen het.
[4] Vry vertaal uit die Engelse vertaling, soos deur Frederick Carney uit die Latyn vertaal. Beklemtoning is my eie.
[5] Markus 12:44.