’n Apietotem van hout wat alles beteken

Toe ek aanvanklik hierdie geleentheid gebied is, was ek verbaas en geëerd om ’n kans gegee te word om ’n bydrae te lewer aan kulturele skryfwerk. Verbaas omdat ek myself nie beskou as die regte persoon vir die werk nie. Ek is ’n man wat vanuit my kultuur leef, maar ek is nie ’n kulturele deskundige nie. Ek laat nie my lig skyn oor die kultuurbakleiery op YouTube nie en ek is nie naastenby so groot as enige van my tydgenote in terme van invloed op die sosiale media nie. Ek beskou myself bloot as ’n wetenskaplike en tegniese deskundige. Ek is beslis nie ’n skrywer nie. Toe gaan daar ’n lig by my op: miskien is dit juis hoekom ek die geskikte persoon is vir die werk. Dat selfs iemand soos ek, hoe ver ek ook al verwyderd is van sake, my kultuur kan ervaar en daarop kommentaar mag lewer.

Terwyl ek hier sit en skryf, staan daar op my lessenaar ’n houtsnywerk van ’n apie, ongeveer so hoog soos ’n koeldrankblikkie, wat heeltyd vir my sit en staar. Die apie se naam is Kgabo, en om presies te wees is hy ’n blouapie. Hierdie eenvoudige totem staan simbool vir soveel kompleksiteit rondom wie ek is. Op hierdie punt sal ek moet uitbrei en ’n redelike hoeveelheid agtergrond moet gee sodat hierdie stelling sin maak.

Die Batswana, oftewel die Tswana-volk, word ruweg verdeel in agt of tien hoofstamme of “groot” stamme. Ek gebruik die term “ruweg” omdat daar taamlik debat gevoer word oor die vraag wat ’n stam nou eintlik ’n hoofstam maak, en hierdie debat wil ek uit die weg gaan. Dit kom daarop neer dat elke Tswana-familie lid is van een van hierdie stamme. Hulle sluit die volgende groeperings in: die Bafokeng, Bakwena, Bahurutshe, Bangwato, Barolong, Bataung, Batlhaping, Bakgalagadi en Bakgatla. Elke stam het sy eie totemdier: die “gees” van die stam. Die totemdier verteenwoordig ’n bepaalde eienskap wat die stam wil oproep en dit kan ook verband hou met die stam se herkoms of geskiedenis; die Bathlaping se naam kan byvoorbeeld vertaal word as “die mense van die vis””. Hulle land word tradisioneel gevind in die nabyheid van groot riviere, en hulle maak op ’n amper rituele of gewyde manier van vis gebruik. Hulle word deur die meeste ander Tswana-stamme beskou as die mees oorlogsugtige stam; in elk geval in terme van Tswana-standaarde. My familie vorm deel van die Bakgatla-stam. Hulle totem roep temas op soos intellek, aanpasbaarheid en langtermynsukses. Wat betref ons totem: dit word as ’n gruwelike daad beskou om opsetlik ’n blouapie te beseer of te na te kom. Om toevallig of onverwags ’n blouapie raak te sien, word beskou as ’n voorteken. Ons kyk na hulle, in sommige gevalle, amper asof hulle fisiese manifestasies is van voorouergeeste wat ons dophou.

Dit is nou alles goed en wel, maar hoe dra hierdie storie by tot betekenisgewing in my lewe? Hoe hou dit verband met die gemeenskap? Ek is van mening dat ek dit die beste kan illustreer deur ’n aantal verhale en sêgoed.

Ek sal begin met een van my persoonlike gunstelinge, ’n vaste uitdrukking wat lui Motho ke motho ka batho babang. Dit beteken “mense is mense deur ander mense”. Dit is ’n uitdrukking wat ek gebruik het teenoor my vriend mnr. Van Zyl in die begindae van ons vriendskap. Dit is nie die een of ander hoog opgeblase New Age-spreuk wat mense moet aanmoedig om eenheid na te streef nie. Ek is van mening dat die uitdrukking die grondslag vorm vir ’n groot deel van die Tswana se lewensbeskouing en dinkprosesse. Dit is ook ’n verklaring van ons toewyding om gemeenskappe te bou en te onderhou.

Op ’n suiwer funksionele vlak is dit ’n verwysing na die belang van spanwerk wanneer dit oor oorlewing gaan. ’n Verdere, effens ondeursigtiger Tswana-spreekwoord verwys ook na oorlewing en ondersteun die eerste spreekwoord. Dit lui soos volg: “Honger kruip weg onder die graanskuur.” Dit is ’n erkenning van moontlike teenspoed of van die kwesbaarheid van oorvloed. Selfs ons manier om vir iemand tot siens te sê, Tsamaya sentle, kan nie sommer net vertaal word as “tot siens” nie. ’n Akkurater vertaling sou wees: mooi loop, met die implikasie: laat dit met jou goed gaan op jou pad, in sommige gevalle ’n reis waar ons paaie nooit weer sal kruis nie. Op hierdie punt dink jy miskien dat ons ’n baie swartgallige volk is. Ek verkies egter om te sê dat ons ’n gesonde dosis stoïsisme in ons dra. Trouens, wanneer die geleentheid hom voordoen, kan ons ’n uiters vreugdevolle volk wees. Die Bakgatla-stam het ’n tradisionele lied wat sowel pryslied as stemmige volkslied is. Wanneer die vroue van my stam dit sing, is dit altyd soos heuning vir my ore en dit laat my tot groot hoogtes rys. Wat mens moet verstaan, is dat net soos wat mense ’n land vorm, vorm die land en die opgedane ervaring in die land ook die mense se lewensbeskouing. Die Batswana, net soos baie ander volke wat grootgeword het in ’n onherbergsame omgewing, het ’n sekere hardheid in ons gedagtes ontwikkel. Alhoewel dit seker as ietwat morbied beskou kan word, moet mens dit eerder beskou as ’n dapper manier van omgaan met die besef dat swaar tye bestaan as vaste onderdeel van die lewenspakket. Op ’n hoër, meer filosofiese noot, is die konsep van motho ke motho ’n stelling wat dit duidelik maak dat die bevestiging van jou bestaan ontspruit uit die gemeenskap.

Ek het hierbo verwys na ons volkslied; dit gaan hand aan hand met ons kleredrag. Party mense is dalk bekend daarmee. Die tradisionele rokke in die kgaka– en shweshwe-styl wat gedra word tydens spesiale geleenthede soos troues, is rofweg vergelykbaar met die Skotse gebruik van tartan-ruitmateriaal. Verskillende sibbes het ’n voorkeur vir verskillende patrone. Wanneer jy die frase “tswana traditional wedding clothes” intik op Google, sal jy verras word deur ’n uitbundige hoeveelheid kreatiewe ontwerpe, almal in blou en wit. Die kleur blou verteenwoordig die hemel, en, nog belangriker vir ’n droë land soos Botswana, ook water – water wat ook lewe en voorspoed inhou. Reën is ongelooflik belangrik, en die naam Mpule, wat verband hou met die koms van die reën, is in Setswana feitlik uitsluitlik ’n vrouenaam. Die reën en die lewe wat dit voortbring word as vroulik beskou. Ek wyk egter nou af van my storie: die rede hoekom hierdie klerestyl so belangrik is vir my, is omdat dit my onmiddellik die gevoel gee dat ek hier tuis is, dat ek hier tuishoort.

Indien ek ’n vreemdeling sou ontmoet wat hierdie kleredrag dra, is ek dadelik op my gemak en ervaar ek ’n gevoel van tuishoort omdat dit so vertroud is. As ons albei die kleredrag dra, het ons dadelik ’n kommunikasiegrondslag en afhangende van die patroon van die drag, moontlik onmiddellik diepgaande inligting oor mekaar. Ja, iemand sou inderdaad die tradisionele drag kon dra sommer net so, maar ’n kultureel bewuste Motswana sal waarskynlik ’n indringer gou uitken deur sekere leidrade.

Wat van groter belang is: in ’n groter wêreld, waar ons dorpe vervang is deur een groot wêrelddorp (enige iemand met ’n slimfoon het in effek toegang tot orde van groottes, tot meer mense, as wat ons ooit tot onlangs gehad het in die mens se geskiedenis, en moderne afspraaktoepassings maak net duideliker hoe maklik vervangbaar mense en verbintenisse is), kan die waarde daarvan om die roete te ken na basisvertroue en -begrip tussen jouself en ’n vreemdeling nie oorskat word nie.

Laastens wil ek iets sê oor ’n taamlik onbekende gewoonte wat party van die lesers dalk al teëgekom het wanneer hulle inkopies doen en geld uitwissel met ’n Motswana of Mosotho, of ’n klompie ander groeperings. Die hand wat die geld uitwissel, sal met die pols omhoog gehou word, met die handholte gebuig soos ’n kommetjie. Die pols van die ander hand sal hoog gehou word sodat die pols van die hand wat die geld hou, vasgegryp word deur die ander hand. Hier moet mens bietjie veralgemeen, maar daar is twee gewoonteredes vir hierdie gebruik. Dit beteken in die eerste plek ’n bewys van eerlikheid: “Ek kom ongewapend na jou toe en hanteer hierdie transaksie te goeder trou.” In die tweede plek, en dalk effens meer morbied, impliseer dit aanvaarding van wat die ander vir my wil gee. Mens kan jou voorstel dat in die verlede ’n Kgosi iets waardevols in die holte van jou hand sou kon plaas, of inderdaad jou blootgestelde polse sou kon deursny, afhangende daarvan wat jy tereg verdien het. Hierdie gebruik is vir my belangrik omdat dit my altyd daaraan herinner om opreg te wees in my transaksies. Dit is ’n oplossing vir ’n probleem wat ons vergeet het bestaan, soos by so baie tradisies die geval is.

Wat sien ek dus wanneer ek na die houtapie staar, wat terugstaar na my? Ek sien ’n verduideliking van hoe ek gekom het tot waar ek nou is. Ek sien ’n briljante illustrasie van wie ek is op ’n veel dieper vlak as ’n paar generiese variasies ten opsigte van kenmerke soos naam, ouderdom, inkomste en beroep. Sulke kenmerke, alhoewel daar talle permutasies daarvan bestaan, is nie besonder uniek nie; hulle manifesteer in kulture oor die hele wêreld heen. Ek sien gekodifiseerde oplossings vir probleme waarvan ek al vergeet het dat ek hulle het, of probleme wat ek nie opgemerk het nie omdat ek hulle reeds proaktief opgelos het. Ek sien ’n belofte van ’n pad terug huis toe, maak nie saak waarheen my omswerwinge voer nie. My hemp in die kgaka-styl stuur ’n boodskap uit na almal om my oor wat my agtergrond is, en is soos ’n reiskaartjie na waar ek tuishoort selfs al is ek ’n oseaan ver van my tuiste. My totem is belangrik omdat dit ’n simbool is vir ’n manier vir my en mense rondom my om ’n meer harmonieuse en voorspoedige lewe te voer. Dit is belangrik omdat ons samelewings en lande ’n funksie is van die kleiner gemeenskappe wat ons op die grond bou. My volk se tuiste Botswana is bewys daarvan. Dankie vir die lees. Tsamaya sentle.

Odin Moja

Odin Moja is ‘n rekenaarwetenskaplike, Rothbard-Hoppean Libertariër, en medestigter van die No Script Show-podsending.

Similar Posts

Skryf 'n opmerking

Your email address will not be published.