Die Westerse beskawing en Afrikaners: ’n Gedeelde worsteling met die krisisse van die stigtingsmites

‘n Stigtings- of herkomsmite ontwikkel met verloop van tyd om te dien as die begronding van ’n kultuur, volk, stad of beskawing. Sulke mites word tipies voorgestel as ’n grootse narratief en funksioneer as regverdiging en verduideliking van die huidige stand van sake, terwyl die gebeurtenisse, entiteite en magte wat daarin beskryf word, dikwels as gewyd of selfs heilig beskou word. Die verwysing in die benaming na die konsep van ’n mite hou nie noodwendig in dat die narratief fiktief is nie; dit verwys eerder daarna dat die ontstaanslegende ’n mitiese aard verkry het, omdat dit ook dikwels sekere bonatuurlike, ewige of argetipiese elemente bevat. So het die Romeine byvoorbeeld die ontstaansmite van Romulus en Remus. Die Amerikaners het die Onafhanklikheids­verklaring wat dateer uit 1776 hulle grondleggers (“founding fathers”), en die VSA se Grondwet as ’n onaantasbare dokument. Die Engelse het onder andere die Slag by Hastings (1066) en die Magna Carta (1215). Vir Afrikaners in Suid-Afrika het die aankoms van Jan van Riebeeck in Kaap die Goeie Hoop (1652), die Groot Trek (1835–1854), die Slag by Bloedrivier (1838) en die Anglo-Boereoolog (1899–1902) almal ontwikkel tot kulturele stigtingsmites.

’n Stigtingsmite het breedweg tot doel om ’n volk of beskawing te oriënteer binne die konteks van die wêreld, omdat dit ’n grootse narratief en argetipes voorsien wat hulle help om sin te maak van die werklikheid deur hulle binne die geskiedenis en die wêreld te posisioneer. Dit voorsien voorts ’n rigtinggewende onderskeiding tussen dit wat as absoluut goed of as absoluut kwaad beskou moet word, en dit bepaal wat as heilig beskou word.

Harry Fosdick het soos volg geredeneer: “Man’s life is like a tree. Branches demand roots; every increase in the superstructure, giving purchase for the wind to get hold upon, requires a new grip on the steadfast earth”, en ook dat “increased extension calls for increased stability”. Sodanige verhoogde kulturele standvastigheid word verkry deur die konsolidering van die stigtingsmite(s) wat dinge bymekaar hou. Die Bybel herinner ons daaraan dat dit belangrik is om jou huis op ’n vaste fondasie te bou. ’n Huis wat op ’n rotsfondasie gebou is, kan swaar reën, wind en oorstromings deurstaan, terwyl ’n huis wat op sand gebou is, ’n ander lotsbestemming het: “Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en die huis het ingestort en is heeltemal verwoes” (Matteus 7:27). So speel die aard, gehalte en krag van ’n kultuur se stigtingsmite(s) ’n betekenisvolle rol in die bepaling van die lotsbestemming daarvan.

’n Stigtingsmite is egter nie in marmer gebeitel nie. In die Westerse wêreld het ons waargeneem hoe die ou stigtingsmites verander is of selfs vervang is ná twee wêreldoorloë en kolonialisme. In Suid-Afrika het apartheid die stigtingsmite geword van die “Nuwe Suid-Afrika”. Quentin Ferreira verwys na hierdie nuwe Suid-Afrikaanse ontstaansmite as “ewigdurende apartheid”. In die Westerse wêreld leef mense in die naoorlogse tydperk van die Eerste en Tweede Wêreldoorlog; in Suid-Afrika leef ’n mens in die tydperk ná 1994 oftewel die postapartheid-tydperk. Letterlik alles, van die zeitgeist, retorika, argitektuur, kultuur, kuns en politiek tot gangbare stereotipes, onderwys en nog veel meer, sowel in die Westerse wêreld as in Suid-Afrika, word geïnterpreteer volgens en beïnvloed deur die raamwerke en paradigmas van hierdie stigtingsmites.

Om hierdie punt toe te lig, kan ons kyk na die sleutelaspek van ’n stigtingsmite as die voorsiener van ’n opvatting van dit wat absolute goed of absolute kwaad verteenwoordig. In die geval van apartheid as stigtingsmite word die destydse Nasionale Party (NP) en die stelsel van apartheid voorgestel as voorbeelde van die absolute kwaad. Dit verklaar hoekom politici, joernaliste, akademici en selfs leke in Suid-Afrika postapartheid woes spartel om hulle teenstanders (of diegene van wie hulle in ideologiese opsig verskil) te brandmerk as ondersteuners van apartheid of as persone wat die idees van NP-leiers uit die verlede deel. Dit word duidelik uit die gevoelens soos gekoester in die African National Congress (ANC) se retoriek, en wat uitgespreek word teenoor opposisiepartye soos die Demokratiese Alliansie (DA), maar ook in die DA se eie retoriek teenoor die ANC. Aan die ander kant van die morele spektrum van die Nuwe Suid-Afrika se stigtingsmite is daar ’n voortdurende toutrekkery tussen opposisiepartye en die regerende ANC, oor wie se deugde moreel gesien verhewe is bo dié van die ander in die sin dat hulle die beste verteenwoordiging bied van die inkarnasie van dit wat absoluut goed is, soos gepersonifieer deur Nelson Mandela.

Quentin Ferreira lig ’n verdere wesenlike aspek van die postapartheid-stigtingsmite uit wanneer hy volgende stel:

At its core, The Eternal Apartheid describes the societal forces which arose from the clash between Western modernity and African culture, and can be best understood as the post-Apartheid frame through which our society is interpreted.

Die postapartheid-stigtingsmite se raamwerk van die werklikheid en die werklike huidige stand van sake berus op die argetipiese wisselwerking tussen wat Ferreira noem die onboetvaardige wit mense en die ewigdurende Afrika-slagoffer. Elke interaksie in die samelewing, elke konflik of kwessie word deur hierdie lens gesien en beoordeel. Dit is om hierdie rede dat binne die postapartheidparadigma enige instelling, simbool of kulturele praktyk wat gewortel is in die Westerse beskawing onmiddellik in die raamwerk van ’n tirannieke, volksvreemde orde geplaas word – en enige poging om dit te bewaar of om die waarde daarvan te erken word bejeën met diepliggende wantroue of antagonisme.

In die Westerse wêreld sien mens dat die stigtingsmites van die naoorlogse tydperk verword het tot clichés wat so wyd versprei is en so dikwels gebruik word dat dit gewild geword het om dit belaglik te maak. Hieruit vloei byvoorbeeld die munt van die term Wet van Godwin, wat beweer dat hoe langer ’n debat op die internet voortduur, hoe waarskynliker word dit dat iemand of iets vergelyk word met Adolf Hitler of die nazi’s. Hierdie verskynsel was veral opvallend tydens die presidentskap van Donald Trump, toe vergelykings met Hitler aan die orde van die dag was, en die etiket “fascisties” ’n oplewing beleef het. As mens dit durf waag om te verskil van die ideale, die voorloperfigure of waardes wat as heilig beskou word deur die stigtingsmites van die naoorlogse tydperk, of dit bevraagteken of kritiseer, word jy onmiddellik beskuldig van simpatieë vir of synde verteenwoordigend van die euwels en ondeugde van die ander kant van hierdie rigiede morele tweedeling. In die Suid-Afrikaanse konteks word enige kritiek op, of voorgestelde alternatief vir, die waardes en ideale van die postapartheid-Reeënboognasie Suid-Afrika dadelik aangegryp om jou te brandmerk as apartheidsaanhanger of ’n rassis wat terugverlang na ’n gesegregeerde verlede.

Die tydperk wat gevolg het op die Wêreldoorloë asook die tydperk ná apartheid – beide geskoei op gewelddadige en traumatiese stigtingsmites – word gevolglik vasgevang in die kloue van ’n ontwrigtende en verdelende paranoia. Daar is ’n nazi aanwesig in elke patriotiese buurman, en ’n apartheidspleitbesorger in elke trotse Afrikaner. Hierdie paranoia lei tot die “suiwering” van elke standbeeld, monument, straatnaam, ideaal of kulturele simbool wat dalk mag verwys of selfs vaagweg verbonde is met die absolute kwaad, wat as sodanig geïdentifiseer is in die nuwe tans geldende stigtingsmite. Elke standbeeld wat opgerig is voor die “nuwe” tydperk; elke simbool wat onversoenbaar is met die pantheon van gode binne die nuwe ontstaansmite; elke waarde of tradisie wat nie streng aansluit by die nuwe mite se ideale nie, word gesien as potensiële sade waaruit die moontlike terugkeer na die betreurenswaardige verlede of die wederopstanding van ou euwels kan groei. Om hierdie rede word hulle genadeloos aangeval en verwyder uit die openbare oog op ’n amper ritualistiese wyse, asof duiwels uitgedryf word, sodat die samelewing gesuiwer word van enige bose geeste wat argelose burgers nog besete hou, en om die demoniese deure toe te spyker wat toegang sou kon verleen tot ’n vergange tydperk. In Suid-Afrika is die voortgesette aanvalle op Afrikaans (wat volgens die ewigdurendeapartheidsmite bestempel word as die onderdrukkerstaal gebesig deur die voormalige regime); die naamsveranderding van Kerkstraat in Pretoria en die verbanning van die ou Suid-Afrikaanse vlag (selfs in die privaatheid van ’n mens se eie huis) voorbeelde van sulke suiweringsrituele

In sowel die Weste as in Suid-Afrika is die stigtingsmites uit die verlede wat gekenmerk is deur temas soos geboorte, groei, opbou, dapperheid, skoonheid en positiewe strewes vervang deur nuwe mites wat gekenmerk word deur dood, lyding, onderdrukking, onreg en skuld. Eerder as om inspirasie te verkry uit die goeie, word hierdie nuwe mites op elke muur in elke dorp vasgenael sodat almal dit moet sien – nie as ’n triomfantelike oorwinningslied nie, maar as ’n duister waarskuwing en voorbode van onheil. Ons stigtingsmites is nie langer gerig op dit wat ons graag wil opbou of bewaar nie, maar eerder op dit wat omvergewerp, uitgeroei, beskadig of vernietig moet word. Die gereedskap is nie langer die ploeg nie, maar die byl.

In die Weste is dit reeds so ver dat enige eerbied vir eeue oue waardes en tradisies van jou voorouers of waardering vir jou erfenis en geskiedenis deur die lens van die nuwe stigtingsmite beskou word as ’n desperate terughunkering na ’n verlede wat gevul was met onreg, wreedheid en onderdrukking. In Suid-Afrika word enige Afrikaner-organisasie of persoon wat nie voortdurend blyk gee van hulle geërfde skuld of hulle kollektiewe aandadigheid in die erfsonde van apartheid, of wat nie in die openbaar etnomasogistiese gevoelens lug nie, aangeval en uitgekryt as rassiste wat nie berou het oor hulle sonde nie. Toe ek onlangs kritiese opmerkings neergeskryf het oor die vernietigende praktiese gevolge van die heilige liberale postapartheidwaardes, is ek daarvan beskuldig dat ek waarskynlik ’n plakkaat van Eugene Terre’Blanche teen my muur het. Dit mag absurd klink, maar dit maak volkome sin binne die ewigdurendeapartheidsmite se evangelie – dit is immers vanselfsprekend dat hekse sal dryf.

Elke argetipe het sowel ’n ligkant as ’n skadukant, en albei moet erken, gekonfronteer en verken word. Die wyse koning, wat argetipies ’n bron van kennis, wysheid en tradisie verteenwoordig wat orde en voorspoed vir die samelewing bring, het as skadukant die tirannieke koning, wat ons daaraan herinner dat oormatige orde slegs dien om groei te kniehalter en te verstik. Die probleem is egter dat die stigtingsmites van ná die Wêreldoorloë asook in die postapartheidstydperk eensydig is in die sin dat hulle volledig oorspoel is deur skadu’s en ’n vreesbevange obsessie met duisternis. In hierdie nuwe stigtingsmites word die deugde van die Westerse en Afrikanerkultuur oppervlakkig binne ’n universele raamwerk geplaas, terwyl hulle ondeugde as eie aan hulle beskou word en slegs by hulle gevind word.

‘n Gesonde stigtingsmite bevestig dat die wêreld beter af is en verryk is deur die bestaan van jou bepaalde kultuur of beskawing, waar ’n toksiese stigtingsmite die teendeel beweer en impliseer dat jy eintlik ’n morele plig het om jouself uit hierdie wêreld te verwyder. Soos Arnold Toynbee dit gestel het: “Great civilizations are not murdered. They commit suicide.” Die kern van die nuwe Westerse stigtingsmite plaas die soeklig op twee verwoestende en traumatiserende wêreldoorloë, die ontwikkeling van die atoombom, die gruwele van nazi-Duitsland (insluitende die uitwissing van die Jode), en kolonialisme. Hierdie voorvalle word voorgehou as die kenmerkende bitter vrugte van die Weste se Faustiaanse strewe en die noodlottige gevolge van hulle waardestelsel. Indien hierdie voorvalle kwaadwillig voorgehou word as die enigste boustene van jou stigtingsverhaal, is dit net natuurlik dat die mure van jou huis vol graffiti geskryf sal word, dikwels deur jou eie hand, met die woorde: “Die wêreld sou beter af gewees het sonder jou!”

Wanneer jou beskawing of kultuur gekonfronteer word met die werklikhede van ’n toksiese stigtingsmite wat wortel geskiet het, is die beste verweer om nuwe mites te skep, nuwe standbeelde of monumente op te rig, en om die kulturele skatte van jou verlede te herontdek en te verjong as hoekstene van dit waarvan jy droom. Maak soos Paul Kruger gesê het: “Neem uit die verlede alles wat goed en edel was, en bou daarop die toekoms.” Ons behoort nie naïef of deur romatiek verblind te wees oor die verlede nie – ’n terugkeer daarheen is onmoontlike en selfs onwenslik. Søren Kierkegaard was reg toe hy opgemerk het dat “[l]ife can only be understood backwards; but it must be lived forwards”.

In die Weste se idealistiese strewe om die wêreld te red deur dit te verwester, het dit die onderhoud van sy eie huis verwaarloos. Net so was Afrikaners so begaan met suiwer selfbehoud dat ons uit die oog verloor het wat bewaar moes bly en wat nie. Markus 8:36: waarsku ons: “Wat help dit ’n mens tog om die hele wêreld as wins te verkry en skade te ly aan sy siel?” Ongelukkig is dit so dat toe ons aandag elders was, die kulturele tuine van sowel die Weste as die Afrikaner se siel so oorwoeker geraak het deur onkruid dat die delikate, skaars en heilige blomme wat in die verlede so vertroetel is en wat deur ons voorouers versorg is met amper ritualistiese toewyding en sorg, verstik het. Ons kultuur is ons kosbare lewensbloed, wat nie deur ons geskep is nie, maar vir ons. Ons is slegs tydelike bewaarders daarvan totdat ook ons dit moet deurgee. Dit is en was ongelukkig steeds veel makliker om ’n erfenis te verkwansel as wat dit is om een op te bou.

ERNST VAN ZYL

Ernst van Zyl is ‘n Veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum. Hy is mede-aanbieder van die Podlitiek-podsending, bied die Afrikaanse “In alle Ernst”-podsending aan, en bied ‘n politieke kommentaar- en onderhoudkanaal op YouTube aan. Ernst plaas gewoonlik op Twitter en YouTube onder sy skuilnaam Conscious Caracal.

Similar Posts

Skryf 'n opmerking

Your email address will not be published.