NUWE VERSLAG ONTBLOOT ANC SE VERDRAAIING VAN GESKIEDENIS

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag ’n verslag bekendgestel wat die ANC se verdraaiing van die geskiedenis ontbloot. Dié verslag is onder leiding van die ideesentrum Opinor opgestel in reaksie op die presidensiële adviespaneel oor grondhervorming en landbou se finale verslag se gedeelte oor historiese konteks.

Die verslag wys onder meer die volgende uit:

  • Daar is verskeie feite foute in die verslag.
  • Betwisbare bewerings word gemaak sonder enige bronverwysings.
  • Die indruk word geskep dat Afrikaners buitelanders was of is, wat ’n doelbewuste verwringing van die geskiedkundige werklikheid is.
  • Daar word oordrewe veralgemenings oor die geskiedenis van grondbesit gemaak.
  • Die eenhede wat gebruik word om die omvang van grond te beskryf, is nie konsekwent nie en is ook eenhede wat nie aan burgers bekend is nie.
  • Verskeie belangrike historiese gebeure word uitgesluit.
  • Woordkeuses skep die indruk dat die geskiedenis van Suid-Afrika deur slegs twee groepe gevorm is, een boos en Europees of van Europese afkoms, en die ander slagoffer en van Afrika.

“Historiese gebeure word in die president se adviespaneel se verslag as motivering gebruik vir grondhervorming en die wysiging van die Grondwet om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak. Dit is problematies dat die geskiedenis verwring word om ideologiese doelwitte te bereik en ’n politieke agenda te dien. Dit is noodsaaklik om eerlik met die verlede om te gaan sodat daar lesse uit die verlede geleer kan word. Dít maak die bou van ’n toekoms moontlik waar herhaling van foute vermy word,” sê Barend Uys, hoof van Navorsing by AfriForum.

“’n Mens kry die indruk dat die doel met die finale verslag nie was om die waarheid te ontdek en aan te bied nie, maar om eerder stereotipes op grond van ras te skep en ’n baie spesifieke meesterverhaal van skurke en slagoffers te bevorder – om ’n voorafbepaalde uitkoms te regverdig,” sê dr. Jackie Grobler, outeur van die verslag.

“Dit is duidelik dat die regering nie met die geskiedenis vertrou kan word. Daarom moet kultuurgemeenskappe self verantwoordelikheid neem en saamwerk om die waarheid in gedeelde geskiedenis te ontdek en dan te benut om die verlede, en daarom die toekoms, te normaliseer,” sluit Uys af.

NUWE VERSLAG ONTBLOOT ANC SE VERDRAAIING VAN GESKIEDENIS

Similar Posts

Skryf 'n opmerking

Your email address will not be published. Required fields are marked *