Opinor stel verslag oor COVID-19-mortaliteitsrisiko bekend; verskillende maatreëls vir verskillende ouderdomsgroepe behoort te geld
Die ideesentrum Opinor het vandag ’n verslag oor die mortaliteitsrisiko van COVID-19 binne die Suid-Afrikaanse werklikheid bekendgestel. Die navorsing wat in die verslag aangehaal word, dui daarop dat verskillende maatreëls vir verskillende ouderdomsgroepe en mense met onderliggende siektetoestande behoort te geld. Die verslag dui ook op die ernstige gevolge wat die inperking in sy huidige formaat kan hê met betrekking tot onder meer wanvoeding in kinders.
Volgens die verslag is daar ’n beduidende verskil in die infeksiefataliteitskoers van COVID-19 vir mense jonger as 50 jaar vergeleke met mense wat 50 jaar oud en ouer is – en veral (gesonde) kinders loop ’n uiters lae risiko. Na beraming sal ongeveer 10% van alle COVID-19-sterftes in die ouderdomsgroepe jonger as 50 jaar voorkom, terwyl 90% van COVID-19-sterftes in die ouderdomsgroepe 50 jaar en ouer sal voorkom. “Omdat die COVID-19-mortaliteitsrisiko so beduidend verskil tussen mense jonger en ouer as 50 jaar, moet verskillende strategieë vir die onderskeie ouderdomsgroepe ontwikkel en in werking gestel word. Dit kan insluit dat werknemers wat 50 jaar en ouer is of onderliggende siektetoestande het vir die afsienbare toekoms sover moontlik hul werk deur middel van tegnologie tuis behoort te doen,” sê Barend Uys, uitvoerende hoof van Opinor.
Maatreëls moet egter aangepas word sodat gemeenskapslede steeds kwesbare en ouer mense kan besoek sonder dat fisieke kontak plaasvind. “Op dié wyse kan die uitdaging van eensaamheid uit die weg geruim word en lewensmiddele ook op ’n veilige wyse aan dié ouer mense voorsien word sonder dat dit ’n ekstra las op gemeenskapsinstellings of die staat plaas,” sê Uys.
Honderde Suid-Afrikaanse kinders jonger as 5 jaar sterf jaarliks weens wanvoeding. Na beraming sal ongeveer 37 keer méér van die land se kinders jonger as 5 jaar van wanvoeding sterf vergeleke met COVID-19. Daarom word daar in die verslag aanbeveel dat dagsorgsentrums, kleuterskole, skole en tersiêre instellings moet heropen (mits maatreëls gevolg word om infeksierisiko’s te beperk) sodat voedingsprogramme hervat kan word en mense kan werk en ’n inkomste kan verdien om te verseker dat kinders nie van honger omkom nie.
“Daar is unieke omstandighede wat in Suid-Afrika geld en dit moet in ag geneem word wanneer strategieë ontwikkel word om COVID-19 te bestry. Strategieë wat gevolg word in lande waarvan die toestande en demografie heeltemal anders as dié van Suid-Afrika is, kan eenvoudig nie plaaslik in werking gestel word nie. Plaaslike werklikhede is bepalend vir die wenslikheid, werkbaarheid en uiteindelike sukses van enige strategie,” sluit Uys af.
Lees die verslag hier.